JESAJA 5:1-7

JESAJA 5:1-7 AFR83

Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd: Hy wat ek liefhet, besit 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel. Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder, dit beplant met veredelde wingerdstokke. Hy het 'n wagtoring daarin gebou en 'n parskuip uitgekap. Hy het verwag dat dit goeie druiwe sou dra, maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly. En nou, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, beslis tog tussen My en my wingerd. Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra? Ek maak julle nou bekend wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek gaan die doringheining verwyder en verbrand, sy muur afbreek, sodat die wingerd vertrap kan word. Ek gaan hom tot niet maak. Hy sal nie meer gesnoei of geskoffel word nie, maar ingeneem word deur doringbosse en onkruid. Ek sal die wolke verbied om daarop te reën. Die wingerd van die Here die Almagtige, die wingerd wat Hy geplant het en waarin Hy Hom wou verlustig, is die Israeliete, die volk van Juda. Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van veronregtes.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid