JESAJA 46

46
Ek laat die redding naderkom
1Bel het ineengestort, dis klaar met Nebo!
Julle gode wat deur julle rondgedra is,
word nou op diere, op beeste gelaai.
Hulle het 'n vrag geword vir moeë diere.
2Dit is klaar met julle gode,
hulle het ineengestort,
hulle kan hulle vrag nie dra nie
en word self in ballingskap weggevoer.
3Luister na My, nageslag van Jakob,
almal wat oor is uit die nageslag van Israel,
julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af,
wat Ek vasgehou het vandat julle daar is.
4Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here,
tot in julle grysheid sal Ek julle dra.
Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou,
julle dra en julle red.
5Met wie kan julle My vergelyk,
aan wie kan julle My gelykstel,
met wie kan julle My op een lyn stel,
wie kan 'n vergelyking met My deurstaan?
6Mense gooi goud uit hulle geldsak uit
en weeg silwer op 'n skaal af;
hulle huur 'n goudsmid, en hy maak daarvan 'n afgodsbeeld.
Dan buig hulle voor hom en aanbid hom.
7Hulle tel hom op hulle skouers en dra hom,
hulle sit hom op sy plek neer en hy staan daar,
hy kan nie van daardie plek af padgee nie.
As iemand na hom roep, antwoord hy nie,
hy help hom nie uit sy nood nie.
8Dink hieraan en luister,
neem dit ter harte, julle oortreders.
9Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede;
Ek is God, daar is geen ander nie;
Ek is God, daar is niemand soos Ek nie.
10Ek kondig vantevore aan wat later sal kom,
lank tevore al wat nog nie gebeur het nie.
Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur,
wat Ek wil, doen Ek.
11Ek roep 'n roofvoël uit die ooste,
uit 'n ver land roep Ek 'n man wat my besluit sal uitvoer.
Ek het dit gesê, en Ek sal hom laat kom,
Ek het dit beplan en Ek sal dit doen.
12Luister na My, julle hardkoppiges,
julle wat geen redding verdien nie.
13Ek laat die redding naderkom,
dit is nie meer ver nie,
die verlossing wat Ek bring, sal nie lank uitbly nie.
Ek bring verlossing vir Sion
en openbaar my mag in wat Ek met Israel doen.

Tans Gekies:

JESAJA 46: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid