JESAJA 34:1-8

JESAJA 34:1-8 AFR83

Kom nader, nasies, luister! Gee aandag, volke! Die aarde met alles daarop moet hoor, die wêreld en alles wat hy voortbring. Die toorn van die Here is teen al die nasies gerig, sy woede teen al hulle leërmagte. Hy gaan hulle heeltemal uitroei, hulle prysgee om doodgemaak te word. Hulle dooies sal net so bly lê, hulle lyke sal stink, en die berge sal van hulle bloed deurdrenk word. Al die hemelliggame sal wegsmelt; die hemel sal soos 'n boekrol toegerol word en al die sterre sal hulle glans verloor soos die blare van 'n wingerdstok of van 'n vyeboom wat verdroog. Wanneer my swaard so uit die hemel uit die bloed van die nasies laat vloei het, sal hy afkom op Edom, op die volk wat Ek heeltemal wil uitroei wanneer Ek hom straf. Die swaard van die Here is vol bloed en drup van die vet: die bloed van lammers en bokramme, die niervet van skaapramme. Die Here hou 'n offerfees in Bosra, Hy rig 'n groot slagting aan in Edom. Die buffels val saam met die mense, die bulkalwers saam met die bulle. Hulle land is deurdrenk van die bloed, die grond is deurweek van die vet. Die dag van die wraak van die Here het gekom, die jaar van vergelding ter wille van Sion se saak.