JESAJA 28:14-29

JESAJA 28:14-29 AFR83

Hoor die woord van die Here, julle ligsinniges wat regeer oor hierdie volk in Jerusalem! Julle sê: “Ons het 'n ooreenkoms met die dood, ons het 'n verstandhouding met die doderyk; wanneer die vloed aangestroom kom, sal hy ons nie tref nie. Ons het die leuen ons skuilplek gemaak, ons kruip veilig weg agter die valsheid!” So sê die Here my God: Ek gaan in Sion 'n klip neersit, 'n uitgesoekte klip, 'n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie. Ek maak geregtigheid die maatstaf, regverdigheid die toets. Die hael sal julle skuilplek van leuens uitwis, die water sal julle wegkruipplek wegspoel. Julle ooreenkoms met die dood word opgehef, julle verstandhouding met die doderyk sal nie bly staan nie. Wanneer die vloed aangestroom kom, sal julle in hom ondergaan. Hy sal julle meesleur elke keer as hy kom, en hy sal dag vir dag kom, dag en nag. Dan sal dit louter verskrikking wees om die boodskap uit te lê wat ontvang is. Die bed sal te kort wees om reguit op te lê, die kombers te smal om jou daarmee toe te maak. Soos by Perasimberg sal die Here Hom gereed maak, soos in die laagte by Gibeon sal Hy Hom in sy toorn voorberei om te doen wat Hy wil doen, om die taak te verrig waartoe Hy besluit het, en dit is iets vreemds wat Hy wil doen, dit is 'n uitsonderlike taak. Staak julle ligsinnigheid sodat die bande nie nog stywer om julle getrek word nie! Ek het by die Here my God, die Almagtige, gehoor dat dit by Hom vasstaan: Hy gaan die hele land verwoes. Gee aandag, luister na wat ek sê, let op, luister na my woorde: Hou 'n boer aan met ploeg as hy wil saai? Hou hy aan grond breek en vore trek? As hy die grond gelyk gemaak het, saai hy mos swartkomyn en komyn, sit hy koring en gars in waar dit moet kom en spelt aan die kante. Sy God leer hom en gee hom die kennis hoe om alles te doen soos dit hoort. Swartkomyn word mos nie met 'n slee uitgedors of komyn met wawiele uitgetrap nie. Swartkomyn en komyn word met 'n stok uitgeslaan. Graan word gemaal vir brood, maar 'n mens hou nie eindeloos aan om dit te laat trap deur wawiele en deur trekdiere tot dit fyn is nie. Ook dit is iets wat van die Here die Almagtige af kom; kennis wat van Hom kom, is wonderbaar en laat alles voorspoedig verloop.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid