JESAJA 25

25
U het die rumoer van die vyand laat ophou
1Here, U is my God!
Ek wil U prys en u Naam loof!
U het wonders gedoen;
dinge wat U lankal besluit het,
het U volgens plan uitgevoer.
2U het die groot stad verander in puinhope,
die vestingstad in ruïnes.
Die vesting van die vyand is nie meer 'n stad nie,
dit sal nooit herbou word nie.
3Die sterk nasie sal voor U buig,
in die stad van die trotse volk sal hulle U dien,
4want U is 'n toevlug vir die armes,
'n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood,
'n skuilplek teen die stortbuie,
'n skaduwee teen die hitte.
Die geweld van die wrede volk is soos 'n winterstorm,
5soos sonsteek in 'n dor land.
U het die rumoer van die vyand laat ophou,
die oorwinningsliedere van die trotse volk laat verdwyn
soos hitte verdwyn onder die skaduwee van 'n wolk.
God berei 'n feesmaal vir die volke
6Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige 'n feesmaal gereed maak vir al die volke,
'n feesmaal met die beste om te eet en te drink,
goeie kos en geurige wyn.
7Op hierdie berg sal Hy die doek verwyder,
die doek wat oor al die volke gegooi was,
waarmee al die nasies toegemaak was.
8Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig,
en die trane op almal se gesigte afvee.
Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder
wat sy volk aangedoen is.
Die Here het dit gesê.
9Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê:
Kyk daar, dit is ons God,
ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered.
Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou.
Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het.
10Die mag van die Here sal op hierdie berg geopenbaar word:
Hy sal Moab aan die voet daarvan vertrap
soos stoppels op 'n mishoop vertrap word.
11Moab sal sy hande in die mishoop uitsteek
soos 'n swemmer wat probeer wegswem,
maar God sal hulle in hulle trots verneder
al probeer hulle om hulleself te red.
12Hy sal Moab se vestings, hulle hoë mure, laat omval,
Hy sal hulle plat op die grond neergooi.

Tans Gekies:

JESAJA 25: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid