JESAJA 11

11
Die loot uit die stomp van Isai
1'n Takkie sal uitspruit
uit die stomp van Isai,
'n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
2Die Gees van die Here sal op hom rus:
die Gees wat wysheid en insig gee,
die Gees wat raad en sterkte gee,
die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.
3Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here.
Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie
en nie oordeel volgens hoorsê nie.
4Hy sal die armes billik verhoor
en die ootmoediges in die land regverdig oordeel.
Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel,
met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring.
5Hy sal regverdig en betroubaar regeer.
6Wolwe en skape sal dan saam bly,
luiperds sal tussen bokkies lê,
kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees
en klein seuntjies sal vir almal sorg.
7Koeie en bere sal saam wei,
hulle kleintjies sal bymekaar lê,
leeus sal gras eet soos beeste.
8Babatjies sal by die gate van adders speel,
klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange.
9Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.
10In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai 'n vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet.
11In dié tyd sal die Here 'n tweede keer sy hand uitsteek om die oorblyfsel van sy volk los te koop, almal wat oorgebly het in Assirië, Egipte, Patros, Kus, Elam, Sinar, Hamat en die kuslande rondom die Middellandse See. 12Die Here sal 'n vaandel oprig onder die nasies en sal die ballinge van Israel bymekaarmaak, die verstrooides van Juda laat saamkom van die uithoeke van die aarde af. 13Efraim se naywer sal verdwyn, en Juda se teëstanders sal uitgeroei word. Efraim sal nie weer jaloers wees op Juda nie, en Juda sal nie weer vyandig wees teenoor Efraim nie. 14Saam sal hulle in die weste die Filistyne aanval en saam sal hulle die mense in die ooste plunder. Hulle sal die Edomiete en die Moabiete verslaan, en die Ammoniete sal aan hulle onderdanig wees. 15Die Here sal die Nyldelta laat opdroog. Hy sal 'n skroeiende wind teen die Eufraat stuur en net sewe kanale daarvan laat oorbly wat 'n mens met jou skoene aan kan deurloop. 16Daar sal vir die oorblyfsel van sy volk wat in Assirië is, 'n grootpad wees soos daar was toe Israel uit Egipte getrek het.

Tans Gekies:

JESAJA 11: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid