GENESIS 47:1-12

GENESIS 47:1-12 AFR83

Josef is toe daar weg en hy het die farao gaan inlig. Josef het vir hom gesê: “My vader en my broers het met hulle kleinvee en grootvee en alles wat hulle besit, hier aangekom uit Kanaän. Hulle is nou in die Gosenstreek.” Josef het vyf van sy broers saamgevat en hulle aan die farao voorgestel, en hy het hulle gevra: “Wat is julle nering?” Hulle het hom geantwoord: “Ons is kleinveeboere, ons en ons voorvaders.” Verder het hulle vir die farao gesê: “Ons wil graag as vreemdelinge hier kom woon, want ons het nie meer weiding vir ons vee nie. Daar is 'n groot droogte in Kanaän. Laat ons toe om in Gosen te kom woon.” Toe sê die farao vir Josef: “Jou vader en jou broers het nou na jou toe gekom. Egipte is tot hulle beskikking. Jy moet hulle in die beste deel van die land laat woon; hulle kan in die Gosenstreek aanbly. En as jy weet van knap manne onder hulle, moet jy dié in bevel plaas van my vee.” Josef het ook sy pa Jakob gebring en hom aan die farao voorgestel. Toe Jakob hom gegroet het, vra hy vir Jakob: “Hoe oud is u?” Jakob het vir hom gesê: “Ek is nou al honderd en dertig jaar 'n vreemdeling hier op aarde. In vergelyking met dié van my voorvaders is dit maar min, en my lewensjare was vol swaarkry.” Toe groet Jakob die farao en vertrek. Josef het sy pa en broers in Rameses laat woon. Hy het vir hulle in die beste deel van Egipte eiendom gegee soos die farao hom beveel het. Hy het sy pa en broers, sy hele familie met kinders en al, van kos voorsien.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid