GENESIS 35:16-29

GENESIS 35:16-29 AFR83

Jakob-hulle het van Bet-El af getrek na Efrata toe. Hulle was nog 'n ent daarvandaan toe bring Ragel 'n kind in die wêreld. Dit was 'n moeilike geboorte. Met dié dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy 'n seun!” Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni . Sy pa het hom egter Benjamin genoem. Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem. Jakob het 'n groot klip op haar graf gesit. Dit is die klip wat nou nog op haar graf is. Israel het verder weggetrek en kamp opgeslaan anderkant Migdal-Eder. Terwyl Israel in daardie landstreek gebly het, het Ruben gemeenskap gehad met Bilha, sy pa se slavinvrou. Israel het dit te hore gekom. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin. Die seuns van Ragel se persoonlike slavin Bilha was: Dan en Naftali. Die seuns van Lea se persoonlike slavin Silpa was: Gad en Aser. Dit is Jakob se seuns wat in Paddan-Aram gebore is. Jakob is na sy pa Isak toe in Mamre by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Isak gebly het, en vroeër ook Abraham. Isak het honderd en tagtig jaar oud geword en toe is hy dood. Hy het gesterf nadat hy oud geword en 'n vol lewe gehad het. Sy twee seuns Esau en Jakob het hom begrawe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid