GENESIS 31:1-21

GENESIS 31:1-21 AFR83

Jakob het die seuns van Laban hoor sê: “Jakob het alles gevat wat aan Pa behoort. Hy het hierdie hele rykdom verkry uit wat aan Pa behoort.” Jakob het ook aan Laban gemerk dat hy nie meer soos voorheen oor hom voel nie. Toe sê die Here vir Jakob: “Gaan terug na jou vaderland, na jou familie toe. Ek sal by jou wees.” Toe laat Jakob vir Ragel en Lea veld toe roep, na sy kleinvee toe. Hy het vir hulle gesê: “Ek merk aan julle pa dat hy nie meer soos voorheen oor my voel nie. Maar die God van my vader was by my. Julle weet dat ek baie hard gewerk het vir julle pa. Tog het hy my bedrieg en my loon kort-kort verander. Maar God het hom nie toegelaat om my te benadeel nie. Wanneer julle pa sê: ‘Die gestreepte kleinvee is jou loon,’ kry die hele trop gestreepte lammers, en wanneer hy sê: ‘Die gevlektes is jou loon,’ kry die hele trop gevlekte lammers. So het God die besitting van julle pa gevat en vir my gegee. “In die paartyd van die kleinvee het ek in 'n droom gesien dat die ramme waardeur die ooie gedek word, gevlek, gestreep en gespikkel is. “Die Engel van God het my in die droom geroep: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’ “Toe sê Hy vir my: Kyk mooi: al die bokramme waardeur die ooie gedek word, is gevlek, gestreep en gespikkel. Ek het alles gesien wat Laban jou aangedoen het. Ek is die God van Bet-El waar jy olie op 'n klippilaar uitgegiet en 'n gelofte teenoor My afgelê het. Maak klaar en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na jou geboorteland toe.” Daarop het Ragel en Lea vir Jakob gesê: “Ons het nie meer enige aandeel aan ons vaderhuis nie. Ons word deur Pa as vreemdelinge beskou. Hy het ons verkoop en die geld opgebruik. Al die besittings wat God van hom afgevat het, is ons en ons kinders s'n. Doen dus gerus maar alles wat God vir jou gesê het.” Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim, en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies. Jakob het ook vir Laban die Arameër bedrieg deur hom nie te vertel van sy vlug nie. Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid