GENESIS 29:14-30

GENESIS 29:14-30 AFR83

Laban het geantwoord: “Dis reg. Jy is bloedfamilie!” Nadat Jakob 'n maand lank by hom gebly het, het Laban vir Jakob gesê: “Jy is familie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.” Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon. Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.” Toe sê Laban: “Goed! Ek sal haar liewer met jou laat trou as met enige ander man. Bly hier by my.” Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos 'n paar dae, want hy het haar liefgehad. Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou. Die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.” Laban het al die mense van die omgewing bruilof toe genooi, maar die aand van die troue het hy sy dogter Lea gevat en haar na Jakob toe gebring, en hy het met haar gemeenskap gehad. Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea as persoonlike slavin saamgegee. Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?” Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat 'n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie. Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.” Jakob het ingestem en daardie week gewag. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou. Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel as persoonlike slavin saamgegee. Jakob het ook met Ragel gemeenskap gehad. Hy het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea en nog sewe jaar by Laban gewerk.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid