EKSODUS 33:7-11

EKSODUS 33:7-11 AFR83

Moses het 'n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. Elke keer wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. Sodra hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat. Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. Die Here het direk met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend. Daarna is Moses terug kamp toe, maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid