EKSODUS 16:14-26

EKSODUS 16:14-26 AFR83

en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.” Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander 'n bietjie, en toe hulle dit met 'n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met 'n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak. Moses het toe vir hulle gesê: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie.” Maar hulle het nie vir Moses geluister nie. Party het daarvan tot die volgende oggend laat oorstaan, maar daar het miet in gekom en dit het gestink. Moses was woedend oor wat hulle gedoen het. Hulle het dit vroeg elke oggend bymekaargemaak, volgens elkeen se behoefte, maar net as die son begin bak, het dit weggesmelt. Op die sesde dag het hulle 'n dubbele porsie opgetel, vier liter vir elkeen. Toe al die leiers van die volk dit vir Moses kom vertel, sê hy vir hulle: “Dit is soos die Here gesê het: Môre is 'n rusdag, 'n gewyde sabbat van die Here. Maak alles gaar, bak wat julle wil bak, en kook wat julle wil kook, en wat oorbly nadat julle geëet het, moet julle wegsit en bewaar vir môre.” Hulle het dit weggesit tot die volgende oggend soos Moses beveel het, en dit het nie sleg geword of miet gekry nie. Toe het Moses gesê: “Eet dit nou vandag, want vandag is dit die sabbat van die Here. In die veld gaan julle niks kry nie. Ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, die sabbat, sal daar niks wees nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid