EKSODUS 13:17-22

EKSODUS 13:17-22 AFR83

Toe die farao die volk laat trek het, het God hulle nie die pad na die land van die Filistyne toe laat vat nie, hoewel dit die kortste was, want Hy het gesê: “As die volk in 'n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe teruggaan.” Daarom het God die volk met 'n ompad laat gaan, met die woestynpad in die rigting van die Rietsee. Die Israeliete het goed georganiseerd uit Egipte getrek. Moses het die liggaam van Josef saamgevat, want Josef het die seuns van Israel dit destyds uitdruklik met 'n eed laat beloof. Hy het gesê: “God sal beslis later na julle omsien, en dan moet julle my liggaam van hier af saamvat.” Hulle het Sukkot verlaat en by Etam aan die rand van die woestyn kamp opgeslaan. Die Here het bedags met 'n wolkkolom voor hulle uit gegaan om vir hulle die pad te wys en snags met 'n vuurkolom om vir hulle lig te verskaf, sodat hulle dag en nag kon trek. Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het altyd voor die volk gebly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid