DANIËL 7

7
Daniël se visioen oor vier diere wat uit die see uit opkom
1In die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van Babel het Daniël 'n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy het die droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. 2Hy het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die groot see onstuimig laat word. 3Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en elkeen was anders as die ander. 4Die eerste het soos 'n leeu gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en is hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos 'n mens, en 'n mens se verstand is aan hom gegee. 5Die tweede dier het soos 'n beer gelyk. Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’ 6En toe ek weer sien, was daar nog 'n dier, een soos 'n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos dié van 'n voël. Hy het vier koppe gehad en aan hom is heerskappy gegee. 7My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar 'n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het tien horings gehad. 8Terwyl ek stip na die horings kyk, het daar 'n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en 'n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.
9“Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit,
en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit.
Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol.
Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur.
10Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei.
Duisende der duisende het Hom gedien,
miljoene het daar voor Hom kom staan.
Die hofsitting het begin,
en die boeke met die aanklagte is oopgemaak.
11“Terwyl ek kyk, is die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy liggaam vernietig deur dit in die vuur te gooi. 12Ook die ander diere se heerskappy is van hulle weggeneem, maar hulle lewens is nog 'n tyd lank gespaar.
13“My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos 'n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring.
14“Aan dié menslike wese is die heerskappy
en eer en koningskap gegee
sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien.
Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy,
dit sal nie tot niet gaan nie;
sy koningskap sal nie ophou nie.
15“Ek, Daniël, het beangs geraak hieroor; die visioen wat ek gesien het, het my laat skrik. 16Ek het na een van dié wat daar gestaan het, gegaan en hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe vir my soos volg uitgelê: 17Die vier groot diere staan vir vier koninkryke wat op die aarde sal ontstaan. 18Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit.
19“Toe wou ek weet waarvoor die vierde dier staan, wat anders was as al die ander, buitengewoon skrikwekkend, met ystertande en bronskloue, wat al wat voorkom, verslind en vermorsel het en wat met sy pote vertrap het wat oorgebly het. 20Ek wou ook weet wat die tien horings op sy kop beteken, en waarvoor die ander een staan wat uitgekom het nadat daar drie uitgeruk is, die horing wat groter geword het as die ander en wat oë gehad het en 'n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het. 21Terwyl ek kyk, het daardie horing begin oorlog maak teen dié wat aan God behoort het, die horing het hulle oorweldig. 22Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang.
23“Dit is vir my soos volg verklaar: Die vierde dier is 'n vierde koninkryk wat op die aarde sal ontstaan en wat anders sal wees as al die ander koninkryke. Hy sal die hele wêreld insluk, dit verwoes en vertrap. 24Wat die tien horings betref: in daardie koninkryk sal tien konings een na die ander regeer, en ná hulle sal daar een kom wat heeltemal anders sal wees as die voriges, en hy sal drie konings onderwerp. 25Hy sal teen die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg. Hy sal probeer om die godsdienstige feeste en wette te verander, en die heiliges van die Allerhoogste sal in sy mag oorgegee word vir die hele vasgestelde tyd. 26Dan sal die hof sit en sal daardie koning se heerskappy van hom af weggevat en vir goed vernietig en beëindig word. 27Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees.
28“Hier eindig my vertelling. Ek, Daniël, het baie geskrik toe ek hieroor dink, en dit het my baie ontstel. Maar ek het alles vir myself gehou.”

Tans Gekies:

DANIËL 7: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid