DANIËL 10

10
Die verbondsvolk in die eindtyd
1In die derde regeringsjaar van koning Kores van Persië het Daniël wat Beltsasar genoem word, 'n openbaring ontvang. Dit was 'n egte openbaring, maar dit was moeilik om te verstaan. Tog het Daniël dit begryp nadat die betekenis daarvan in 'n visioen aan hom geopenbaar is.
2In daardie tyd het ek, Daniël, drie weke getreur. 3Ek het die volle drie weke geen lekker kos geëet nie, my mond nie aan vleis of wyn gesit nie en geen reukolie gebruik nie.
4Op die vier en twintigste dag van die eerste maand was ek by die groot rivier, die Tigris. 5Toe ek opkyk, sien ek 'n man met linneklere aan en met 'n gordel van fyn goud uit Ufas om sy lyf. 6Sy liggaam het geskitter soos 'n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos 'n harde dreuning.
7Net ek, Daniël, het die visioen gesien. Die mense by my het dit nie gesien nie. Tog was hulle so skrikbevange dat hulle gevlug en weggekruip het 8en ek alleen agtergebly het. Toe ek hierdie indrukwekkende visioen sien, het ek magteloos en doodsbang geword en het ek geen krag meer gehad nie. 9Toe hoor ek die man praat, en terwyl ek hom nog hoor praat, het ek bewusteloos vooroor op die grond geval. 10Daarna het 'n hand my gevat en my op my knieë en hande laat staan, terwyl ek gebewe het. 11Die man sê toe vir my: “Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur.”
Toe hy dit vir my sê, het ek bewend regop gaan staan. 12Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. 13Die engel van die Persiese Ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie. 14Ek het gekom om jou in te lig oor wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie visioen sien op die tye wat kom.”
15Terwyl hy dit vir my sê, het ek sprakeloos my kop na die grond toe laat sak. 16Toe het iemand wat soos 'n mens gelyk het, my lippe aangeraak, en ek kon weer my mond oopmaak en praat. Ek het vir die een wat voor my gestaan het, gesê: “Meneer, die visioen het my so ontstel dat ek geen krag meer het nie. 17Hoe kan ek, u dienaar, met iemand soos u praat, Meneer! My kragte het ingegee, ek kan skaars nog asemhaal.”
18Toe het hy wat soos 'n mens gelyk het, my weer aangeraak en vir my krag gegee. 19Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!”
Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.”
20Hy het toe vir my gesê: “Nou weet jy waarom ek na jou toe gekom het. En nou moet ek teruggaan om teen die engel van Persië te gaan veg, en as ek met hom klaar is, sal die engel van Griekeland kom. 21Maar eers sal ek jou vertel wat in die Boek van die Waarheid opgeteken is. Daar is niemand wat my teen hulle bystaan nie behalwe julle engel Migael.

Tans Gekies:

DANIËL 10: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid