AMOS 1:1-15

AMOS 1:1-15 AFR83

Die woorde van Amos, 'n skaapboer uit Tekoa. Hy het oor Israel 'n gesig gesien tydens die regering van koning Ussia van Juda en koning Jerobeam van Israel, seun van Joas. Dit het twee jaar voor die aardbewing gebeur. Amos het gesê: Wanneer die Here uit Sion brul, wanneer Hy sy stem uit Jerusalem laat hoor, verdor die weivelde van die herders en verdroog die top van Karmelberg. So sê die Here: Selfs as Damaskus net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het vir Gilead met skerp ysters gemartel. Daarom sal Ek in die paleis van Gasael 'n vuur laat losbreek en dit sal die mooi huise van Ben-Hadad verteer. Ek sal die grendels van Damaskus stukkend breek, die inwoners van Bikat-Awen en die regeerder van Bet-Eden uitroei. Die Arameërs sal in ballingskap na Kir toe weggevoer word, sê die Here. So sê die Here: Selfs as Gasa net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het mense voor die voet as ballinge weggevoer en aan Edom uitgelewer. Daarom sal Ek binne die mure van Gasa 'n vuur laat losbreek en dit sal sy mooi huise verteer. Ek sal die inwoners van Asdod en die regeerder van Askelon uitroei. Ek sal my hand teen Ekron oplig, en die Filistyne wat nog oor is, sal omkom, sê die Here my God. So sê die Here: Selfs as Tirus net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het mense voor die voet as ballinge aan Edom uitgelewer en nie aan die ooreenkoms met sy bondgenote gedink nie. Daarom sal Ek binne die mure van Tirus 'n vuur laat losbreek en dit sal sy mooi huise verteer. So sê die Here: Selfs as Edom net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy 'n vierde sonde daarby gevoeg: hy het die Israeliete, sy broers, agtervolg met die swaard en die broederliefde verloën, hy het hulle in sy toorn verskeur, sy woede het bly kook. Daarom sal Ek in Teman 'n vuur laat losbreek en dit sal die mooi huise van Bosra verteer. So sê die Here: Selfs as die Ammoniete net drie keer sonde gedoen het, sou Ek hulle straf nie herroep het nie. Maar nou het hulle 'n vierde sonde daarby gevoeg: hulle het swanger vrouens in Gilead oopgesny en hulle eie gebied uitgebrei. Daarom sal Ek binne die mure van Rabba 'n vuur aansteek en dit sal sy mooi huise verteer. Dié dag sal daar geskreeu word en sal daar oorlog wees, 'n storm, 'n orkaan. Hulle koning sal in ballingskap weggevoer word, hy en sy amptenare saam met hom, sê die Here.

Gratis leesplanne en oordenkings oor AMOS 1:1-15

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid