HANDELINGE 7:17-50

HANDELINGE 7:17-50 AFR83

“Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot 'n groot getal aangegroei. 'n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom, en hy het 'n slim plan teen ons mense beraam en ons voorouers wreed behandel. Hy het hulle verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat, sodat hulle nie aan die lewe sou bly nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg, en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat. Daar het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad. “Op veertigjarige leeftyd het die verlange by hom opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. Toe hy sien dat een van hulle deur 'n Egiptenaar mishandel word, het hy die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie. Toe hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat baklei, wou hy vrede maak en hy sê: ‘Mense, julle is tog broers! Hoekom baklei julle dan met mekaar?’ Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het?’ Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore. “Veertig jaar later het 'n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van 'n brandende doringbos aan Moses verskyn. Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here: ‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie. En die Here sê vir hom: ‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek gesien, en hulle gekerm het Ek gehoor. Daarom het Ek gekom om hulle te red. Kom nou nader; Ek wil jou na Egipte toe stuur.’ “Dit is dieselfde Moses vir wie die Israeliete nie wou aanvaar nie en vir wie hulle gesê het: ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ Tog het God juis vir Moses as leier en redder na hulle toe gestuur deur die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het. So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Veertig jaar lank het hy tekens en wonders in Egipte, by die Rooisee en in die woestyn gedoen. Dit is dieselfde Moses wat vir die volk Israel gesê het: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom.’ “Dit is hy wat, toe die volk daar in die woestyn bymekaar was, die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het. Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel. Ons voorvaders wou egter nie na hom luister nie. Hulle het hom verontagsaam en na Egipte terug verlang. Toe het hulle vir Aäron gesê: ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’ Die gevolg was dat hulle destyds 'n afgodsbeeld gemaak het in die vorm van 'n kalf en daaraan offers gebring het en feesgevier het tot eer van hulle eie handewerk. Maar God het Hom van hulle afgewend en hulle laat begaan om die sterre te aanbid, soos daar geskrywe staan in die boek van die profete: “Was dit vir My, Israel, dat julle brandoffers en ander diereoffers gebring het gedurende die veertig jaar in die woestyn? Nee! Julle het die tent van Molek saamgeneem en die ster van julle god Refan. Julle het hierdie beelde gemaak om te aanbid. Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon wegstuur. “Ons voorvaders het die tent met die getuienis by hulle in die woestyn gehad. Moses het dit op bevel van God gemaak volgens die voorbeeld wat hy gesien het. Die volgende geslag het die tent ontvang en dit saamgeneem toe hulle onder leiding van Josua die land in besit geneem het waaruit God die inwoners voor ons voorvaders uit verdrywe het. Dit het daar gebly tot die tyd van Dawid. God was vir hom goed, en Dawid het gevra om toegelaat te word om vir God 'n tempel te bou vir gebruik deur die nageslag van Jakob. Maar dit was Salomo wat die tempel gebou het. God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie. Soos die profeet dit stel: “Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here. Watter soort huis sal julle tog vir My bou of watter plek as my rusplek? Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie?

Gratis leesplanne en oordenkings oor HANDELINGE 7:17-50

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid