HANDELINGE 16:16-40

HANDELINGE 16:16-40 AFR83

Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons 'n slavin teëgekom in wie daar 'n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.” Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!” Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan. Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.” Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar 'n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.” Toe het die bewaarder 'n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle 'n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het. Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.” Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!” Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.” Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat. Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor HANDELINGE 16:16-40

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid