HANDELINGE 1:1-14

HANDELINGE 1:1-14 AFR83

My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. Terwyl Hy 'n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” Toe hulle 'n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, 'n sabbatsreis ver. In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik vertoef het. Dit was Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas seun van Jakobus. Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met 'n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.

Gratis leesplanne en oordenkings oor HANDELINGE 1:1-14

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid