2 PETRUS 2:1-17

2 PETRUS 2:1-17 AFR83

Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort. Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaadpraat van die Weg van die waarheid. In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar. God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered. Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom. En tog het Hy vir Lot gered, 'n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit 'n foltering was vir sy opregte gemoed. Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie. Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger is, bring nie voor die Here lasterlike aanklagte teen hierdie wesens in nie. Maar hierdie mense praat lasterlik van dinge waarvan hulle niks verstaan nie. Hulle is soos verstandlose wilde diere wat voortgebring word om gevang en doodgemaak te word. Soos wilde diere sal hulle ook verdelg word. Vir hulle goddeloosheid sal hulle die loon van die goddelose ontvang. Hulle verlustig hulle daarin om helder oordag swelgpartye te hou. Wanneer hulle saam met julle eet, is hulle 'n smet en 'n skande omdat hulle hulle aan uitspattighede te buite gaan. Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense en is bedrewe geldwolwe, die vervloektes! Hulle het die reguit pad verlaat en verdwaal geraak. Hulle het die weg gevolg van Bileam seun van Beor wat daarop uit was om vir geld onreg te pleeg, maar wat oor sy oortreding bestraf is. 'n Stom rydier het met die stem van 'n mens gepraat en 'n einde gemaak aan die onsinnige optrede van die profeet. Hierdie mense is droë fonteine, miswolke wat deur 'n stormwind voortgejaag word. Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid