2 KONINGS 8:1-6

2 KONINGS 8:1-6 AFR83

Elisa het vir die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, gesê: “Maak klaar om te vertrek, jy en jou huisgesin. Gaan bly op enige plek in die buiteland waar jy blyplek kan kry, want die Here het 'n hongersnood van sewe jaar vir hierdie land bepaal, en dit het al klaar begin.” Die vrou het klaargemaak soos die profeet gesê het, en met haar gesin vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan bly. Aan die einde van die sewe jaar het sy uit die land van die Filistyne teruggekeer. Sy het na die koning toe gegaan om by hom te pleit vir haar huis en haar grond. Die koning was in gesprek met Gehasi, die slaaf van die man van God. Hy het gevra: “Vertel 'n bietjie vir my van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.” Terwyl hy vir die koning vertel van die dooie vir wie Elisa in die lewe teruggebring het, kom die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, juis by die koning pleit vir haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “U Majesteit, dit is die vrou hierdie, en dit is haar seun vir wie Elisa in die lewe teruggebring het.” Die koning het die vrou uitgevra, en sy het hom alles vertel. Die koning het 'n paleisamptenaar tot haar beskikking gestel met die opdrag: “Sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die hele opbrengs van die grond van die dag af dat sy die land verlaat het tot nou toe.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 KONINGS 8:1-6

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid