2 KRONIEKE 34:22-28

2 KRONIEKE 34:22-28 AFR83

Gilkija en die manne van die koning is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel waarom hulle gekom het, en sy het geantwoord: “Ek het 'n boodskap van die Here die God van Israel. Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het: So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, die volle straf soos dit opgeteken staan in die boek wat aan die koning van Juda voorgelees is, want hulle het My verlaat. Hulle het offerandes gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn word op hierdie plek uitgestort, die vlam van my toorn sal nie geblus word nie. Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy berou getoon het voor God toe jy hoor wat Hy sê oor hierdie plek en sy inwoners, en dat jy jou klere geskeur het en gehuil het en voor My berou getoon het, sê die Here. Ek sal jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek en sy inwoners bring, self beleef nie.” Die afvaardiging het so aan die koning gerapporteer

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid