1 TESSALONISENSE 5:1-11

1 TESSALONISENSE 5:1-11 AFR83

Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag. Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne 'n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos 'n dief oorval nie. Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. Dié wat slaap, is van die nag; en dié wat hulle dronk drink, is van die nag. Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe. Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 TESSALONISENSE 5:1-11

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid