1 SAMUEL 8:1-10

1 SAMUEL 8:1-10 AFR83

Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as leiers oor Israel aangestel. Die oudste se naam was Joël en dié van die tweede Abia. Hulle was leiers in Berseba. Maar Samuel se seuns was nie soos hy nie: hulle het hulle verryk ten koste van ander, het omkoopgeskenke aangeneem en die regspraak verdraai. Al die leiers van Israel het bymekaargekom en na Samuel toe in Rama gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword. U kinders is nie soos u nie. Stel nou liewer 'n koning oor ons aan om oor ons te regeer, soos dit by al die nasies is.” Maar vir Samuel was dit verkeerd dat hulle gesê het: “Gee ons tog 'n koning om oor ons te regeer.” Samuel het tot die Here gebid, en die Here het vir hom gesê: “Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle. Hulle het nou ook met jou gemaak wat hulle met My gedoen het sedert Ek hulle uit Egipte laat trek het tot nou toe: hulle het My verlaat en ander gode gedien. Gee nou maar toe aan hulle versoek. Stel die saak net baie duidelik aan hulle: sê vir hulle wat die reg van die koning is wat oor hulle sal regeer.” Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom 'n koning gevra het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid