1 SAMUEL 18:1-16

1 SAMUEL 18:1-16 AFR83

Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie. Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself. Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel. Dawid het toe opgetrek teen elkeen teen wie Saul hom uitgestuur het. Hy was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind. Toe Dawid teruggekom het nadat hy die Filistyn verslaan het en Saul-hulle op pad was huis toe, het die vroue van al die dorpe van Israel uitgegaan om te sing, en die danseresse het koning Saul tegemoet gegaan met tamboeryne en driesnarige musiekinstrumente en met gejubel. Die vroue het gedans en gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Daaroor het Saul hom vererg. Dit het hom nie geval nie en hy het gesê: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee en aan my duisende. Die koningskap sal ook nog syne word!” Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou. Die volgende dag het 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos 'n waansinnige. Soos gewoonlik het Dawid op die lier gespeel. In die hand van Saul was daar 'n spies. Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen. Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal. Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat. Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was. Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 SAMUEL 18:1-16

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid