1 KONINGS 1:1-27

1 KONINGS 1:1-27 AFR83

Koning Dawid was al baie oud en selfs as hulle hom goed toegemaak het, het hy nie warm geword nie. Sy amptenare sê toe vir hom: “Laat hulle vir U Majesteit 'n jongmeisie soek wat u kan bedien en oppas. Sy kan by u slaap, sodat u weer warm kan word.” Nadat hulle deur die hele gebied van Israel gaan soek het na 'n mooi meisie, het hulle vir Abisag, 'n meisie uit Sunem, gekry en haar na die koning toe gebring. Hierdie meisie was baie mooi en sy het die koning opgepas en versorg, maar die koning het nooit geslagsgemeenskap met haar gehad nie. Intussen het Adonia, seun van Dawid en sy vrou Gaggit, ewe hoogmoedig by homself gedink: ek gaan binnekort koning wees. Hy skaf toe vir hom 'n strydwa met ruiters aan, en vyftig man om voor hom uit te hardloop. Sy vader het hom van kleins af nooit berispe of vir hom gevra: “Hoekom maak jy so?” nie. Adonia, die jonger broer van Absalom, was 'n baie mooi man. Hy het met Joab seun van Seruja en met die priester Abjatar onderhandel, en hulle het hom ondersteun. Maar die priester Sadok, Benaja seun van Jojada, die profeet Natan, Simeï, Reï en Dawid se lyfwagte was nie aan Adonia se kant nie. Adonia het skape, beeste en vetgemaakte kalwers geslag by Sogeletrots langs Rogelfontein en toe al die koning se seuns, sy broers, daarheen genooi, en ook al die manne van Juda wat in die koning se diens was. Maar hy het die profeet Natan, Benaja, die lyfwagte en sy broer Salomo nie genooi nie. Natan sê toe vir Batseba, Salomo se moeder: “Het jy gehoor Adonia seun van Gaggit het koning geword, en koning Dawid weet daar niks van nie! Laat ek jou nou goeie raad gee sodat jy jou eie lewe en jou seun Salomo s'n kan red. Gaan na koning Dawid toe en sê vir hom: ‘U Majesteit, u het mos vir my met 'n eed beloof my seun Salomo sal na u koning word en dit is hy wat op u troon sal sit. Hoe is dit dan dat Adonia nou koning geword het?’ En terwyl jy nog met die koning praat, sal ek agter jou inkom en die saak verder voer.” Toe het Batseba by die koning in sy kamer ingegaan. Die koning was baie oud, en Abisag die Sunemmitiese meisie was besig om die koning te versorg. Batseba het ingekom en voor die koning gebuig. Die koning sê toe: “Wat kan ek vir jou doen?” Sy sê vir hom: “U Majesteit, u het mos tog voor die Here u God vir my met 'n eed beloof dat my seun Salomo na u koning sal word, en dat dit hy is wat op u troon sal sit. Maar nou het Adonia koning geword sonder dat u iets daarvan weet. Hy het 'n klomp beeste en kalwers en skape geslag en hy het al die prinse en die priester Abjatar en vir Joab, die hoof van die leër, daarheen genooi. Maar vir Salomo het hy nie genooi nie. U Majesteit, die hele Israel kyk nou op na u om vir hulle aan te wys wie u troon ná u sal bestyg. Moet ek en my seun Salomo dan, nadat u in u graf gelê is, as misdadigers behandel word?” Terwyl sy nog met die koning praat, kom die profeet Natan daar aan. Iemand sê toe vir die koning: “Hier is die profeet Natan.” Natan kom toe nader en buig diep voor die koning en sê: “U Majesteit, het u ooit gesê Adonia moet ná u koning wees en dit is hy wat op u troon moet sit? Hy het vandag gegaan en 'n klomp beeste en kalwers en skape geslag, en hy het al die prinse en die leërhoofde en die priester Abjatar genooi. Hulle eet en drink daar saam met hom en hulle roep: ‘Lank lewe koning Adonia!’ Maar vir my en die priester Sadok en Benaja seun van Jojada, en Salomo het hulle nie genooi nie. As hierdie optrede met u toestemming plaasvind, dan het u ons nie ingelig oor wie ná u op u troon moet sit nie.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 KONINGS 1:1-27

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid