1 KORINTIËRS 11:23-29

1 KORINTIËRS 11:23-29 AFR83

Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Elkeen wat op 'n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur 'n oordeel oor homself.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid