1 KRONIEKE 13:1-10

1 KRONIEKE 13:1-10 AFR83

Daarna het Dawid met die aanvoerders van duisend en dié van honderd beraadslaag, met elke leier. Hy het vir die volle volksvergadering van Israel gesê: “As julle dink dit is goed, en as die Here ons God sy goedkeuring gee, laat ons die saak nou aanpak en boodskappers stuur na ons ander volksgenote toe in al die gebiede van Israel, dat hulle, en saam met hulle die priesters en die Leviete wat in hulle dorpe met weivelde woon, hier by ons moet bymekaarkom. Dan bring ons die ark van ons God na ons toe terug; in Saul se tyd het ons ons nie daaroor bekommer nie.” Die volle vergadering het hom bereid verklaar om dit te doen, want die hele volk het gedink dis reg. So het Dawid dan die hele Israel, van Sigorspruit aan die Egiptiese grens af tot by Lebo-Hamat, bymekaargebring om die ark van God in Kirjat-Jearim te gaan haal. Dawid en die hele Israel het opgetrek na Baäla toe, na Kirjat-Jearim toe wat in Juda lê, om die ark te gaan haal. Dit is die ark van die Here God wat oor die gerubs troon; sy Naam is oor die ark uitgeroep. Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa vervoer van die huis van Abinadab af. Ussa en Agjo het die wa gedrywe. Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van God uit gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, simbale en trompette. Toe hulle by Nakon se dorsvloer kom, het Ussa die ark met sy hand teëgehou, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam; die Here het hom getref omdat hy met sy hand aan die ark geraak het, en hy het daar langs die ark gesterf.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid