Sagaria 10

10
Herstel vir die Here se mense
1Vra die Here vir reën in die lente en Hy sal dit gee. Dit is die Here wat die reënwolke maak en hulle laat stortreën. Hy sorg dat daar genoeg groen weiding in die veld vir almal is.
2Baie mense soek hulp en raad by die afgodsbeeldjies wat in hulle huise is. Ander mense weer vra hulp by mense wat sê dat hulle die toekoms vooruit kan vertel. Die raad wat hulle kry, is niks werd en niks anders as leuens nie. Mense wat sê dat hulle drome uitlê, bedrieg ander mense. Die troos wat hulle kastig vir mense gee, help nie regtig nie. My volk is nou soos verdwaalde skape wat nie ’n herder het om hulle te beskerm of rigting te gee nie. Hulle is leierloos! 3Die Here sê: “Ek is baie kwaad vir hierdie leiers wat na die mense moes kyk. Ek gaan hulle straf. Ek is my volk Juda se herder en Ek sal hulle versorg.” Die Here sal sorg dat hulle weer trots op hulleself is. 4Uit Juda sal al die leiers vir die toekoms kom. Hulle sal soos die hoeksteen van ’n gebou wees. Hulle sal wees soos die pen wat die tent anker en regop hou of soos die boog wat in gevegte gebruik word. 5Hulle sal soos dapper mense wees wat oorlog maak. Hulle sal hulle vyande heeltemal verslaan. Die vyand sal soos modder onder hulle voete vertrap word. Omdat die Here by hulle is wanneer hulle veg, sal hulle selfs die vyand se soldate wen wat op perde ry.
6Die Here sê: “Ek sal Juda wat in die suidelike deel van Palestina bly, weer sterk maak. Israel wat in die noorde van die land woon, sal Ek red. Ek sal hulle na hulle land toe laat terugkom omdat Ek hulle liefhet. Dit sal wees of Ek hulle nooit van My af weggestoot het nie. Ek is die Here hulle God wat antwoord gee op die gebede wat hulle gebid het.
7Die mense van Israel sal soos dapper soldate wees. So bly sal hulle wees dat mense sal dink hulle het te veel wyn gedrink. Hulle kinders sal alles sien wat gebeur en bly wees daaroor. Hulle sal baie bly wees oor wat die Here gedoen het. 8As Ek ’n teken gee, sal my volk bymekaarkom. Hulle weet Ek wil hulle weer vrymaak. Hulle sal weer net soveel mense wees soos hulle was voordat hulle uit hulle land weggevat is. 9Ek het toegelaat dat hulle soos saad oral tussen volke gestrooi word. Maar al is hulle daar in die vreemde lande, sal hulle nie van My vergeet nie. Hulle en hulle kinders sal die omstandighede daar oorleef. Hulle sal na Israel toe terugkom. 10Ek sal hulle uit Egipte en Assirië terugbring en hulle weer in die Gileadgebied en Libanon laat bly. Daar sal amper nie genoeg plek vir hulle almal wees om te bly nie. 11Hulle sal deur die onstuimige waters van die see gaan, want die golwe sal vir hulle ’n pad maak. Verder sal die water van die Nyl opdroog. Assirië is baie neus in die lug, maar hulle sal hard aarde toe kom. Egipte sal ook nie langer baasspeel oor ander mense nie. 12Ek sal my mense sterk maak. Hulle sal sekere goed doen wat Ek, die Here, hulle die mag sal gee om te kan doen. Ek, die Here wat sterker as alles en almal is, het dit gesê.”

Tans Gekies:

Sagaria 10: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid