Numeri 8

8
Die kandelaar
1Die Here sê toe vir Moses: 2“Sê vir Aäron hy moet die kandelaar so opstel dat die sewe lampe se lig almal vorentoe skyn.” 3Aäron het gedoen wat die Here vir Moses gesê het. Hy het die kandelaar so neergesit dat al die lampe se lig vorentoe geskyn het. 4Die hele kandelaar was van verwerkte goud, van die voetstuk af tot by die boonste gedeelte, wat versier was in die vorm van blombloeisels. Aäron het die kandelaar presies gemaak volgens die skaalmodel wat die Here aan Moses gewys het.
Die Leviete begin met hulle werk
5Die Here het weer met Moses gepraat en vir hom gesê: 6“Sit die Leviete opsy, weg van die res van die Israeliete af. Maak hulle rein om My te kan dien. 7Doen dit op die volgende manier: gooi water oor hulle as ’n teken dat hulle sonde van hulle afgewas word. Verder moet hulle ’n skeermes vat en al hulle liggaamshare afskeer en hulle klere skoon was. Dan kan hulle skoon voor My staan, gereed om vir My te werk. 8Daarna moet hulle ’n jong bul as offer slag saam met die graanoffer van fynmeel wat met olie gemeng is wat daarby hoort. Slag en offer ook ’n tweede jong bul vir hulle as ’n offer vir hulle sonde. 9Roep dan al die Israeliete bymekaar en laat die Leviete voor die ingang van die tent staan waar Ek aanbid word. 10Wanneer jy die Leviete so voor My, die Here, gebring het, moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê. 11Aäron moet dan die Leviete aan My, die Here, opdra, net soos die offer wat heen en weer voor My beweeg word om dit aan My op te dra. Dan sal die Leviete gereed wees om hulle werk in my Naam te doen.
12“Hierna moet die Leviete hulle hande op die twee bulle se koppe sit. Die een bul moet as ’n sondeoffer en die ander bul as ’n brandoffer aan My, die Here, geoffer word om die Leviete se sonde weg te vat. 13Die Leviete moet dan as ’n spesiale offer, soos dié wat heen en weer voor My beweeg word, aan My opgedra word. Daarna moet hulle in diens van Aäron en sy seuns staan. 14Op hierdie manier moet die Leviete van die res van die Israeliete afgesonder word sodat hulle net aan My kan behoort. 15Hierna mag die Leviete hulle werk doen in en om die tent waar Ek aanbid word.
16-18“In die plek van al die eersgebore seuns van die Israeliete het Ek nou die Leviete op ’n spesiale manier vir Myself gevat. Toe Ek al die eersgebore kinders van die Egiptenaars doodgemaak het, het Ek elke oudste kind in Israel, mense en diere ingesluit, as my eiendom opgeëis. In plaas daarvan dat Ek al die eersgebore kinders vir My vat, behoort die Leviete van nou af aan My. 19Ek stel die Leviete tot die beskikking van Aäron en sy seuns sodat hulle hulle werkslas kan verlig. Hulle is ’n geskenk van die Israeliete aan Aäron en sy seuns om in hulle plek by die tent van aanbidding te werk. Op dié manier sal dit die Israeliete beskerm van enige straf wat hulle kan tref as hulle self te na aan die tent kom waar Ek aanbid word.”
20Moses en Aäron en al die Israeliete het presies alles met die Leviete gedoen wat die Here gesê het. 21Die Leviete het hulleself en hulle klere skoongewas en Aäron het hulle aan die Here opgedra soos ’n offer wat heen en weer voor die Here beweeg word. Hy het ook namens hulle by die Here verskoning gevra vir hulle sondes en hulle so gereed gekry vir hulle diens in die tabernakel. 22Die Leviete het van toe af onder leiding van Aäron en sy seuns hulle werk gedoen in die tent waar die Here aanbid word. So het hulle al die Here se opdragte aangaande die Leviete gehoorsaam.
Die Leviete se dienstyd
23Die Here het ook vir Moses gesê: 24“Die Leviete moet die volgende reël streng nakom: hulle mag eers op die ouderdom van 25 jaar begin werk in die tent waar Ek aanbid word, 25en hulle moet op die ouderdom van 50 aftree. 26Na hulle aftrede mag hulle die Leviete met die dienswerk by die tent help, maar hulle mag dan nie meer self enige dienste verrig nie. Dit is hoe jy die Leviete se dienstyd moet bepaal.”

Tans Gekies:

Numeri 8: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid