Numeri 33

33
Israel se verskillende
kampplekke tussen Egipte en Kanaän
1Hier volg ’n opsomming van die Israeliete se kampplekke nadat hulle onder Moses en Aäron se bevel uit Egipte getrek het. 2Soos die Here vir Moses gesê het, moes hulle elke plek waar hulle gekamp het, se naam neerskryf. Die trek het so verloop: 3-4Die Israeliete het die oggend na die heel eerste paasfees vroeg in die lente van die stad Rameses in Egipte af weggetrek. Die Egiptenaars was nog besig om hulle kinders te begrawe wat in die groot wonderwerk wat die Here daar gedoen het, dood is. Hulle kon niks anders doen nie as om maar net te kyk hoe die Israeliete wegtrek. Die Here het hulle laat wegtrek, want met die laaste wonder het Hy finaal al die gode van Egipte op hulle plek gesit. 5Van Rameses af is hulle Sukkot toe waar hulle kamp opgeslaan het. 6Hulle het Sukkot verlaat en tot by Etam op die rand van die woestyn getrek en daar kamp opgeslaan. 7Van Etam af is hulle terug na Pi-Hagirot toe, regoor Baäl-Sefon, waar hulle by Migdol kamp opgeslaan het. 8Hulle het die omgewing van Pi-Hagirot verlaat en deur die Rietsee na die woestyn toe getrek. Na drie dae se trek deur die Etamwoestyn het hulle by Mara aangekom en daar oorgebly. 9Van Mara af is hulle Elim toe. Daar was twaalf fonteine en 70 palmbome, en hulle het daar gekamp. 10Van Elim af is hulle na die Rietsee toe waar hulle weer kamp opgeslaan het. 11Hulle het die Rietsee verlaat en later in die Sinwoestyn kamp opgeslaan. 12Hiervandaan is hulle na Dofka toe. 13Daarna is hulle na Alus toe en van daar af 14na Refidim toe. Dit is waar daar nie drinkwater vir die volk was nie. 15Hulle het toe van Refidim af na die Sinaiwoestyn getrek.
16Hierna het die Israeliete op die volgende plekke oorgebly: Kibrot-Taäwa, 17Gaserot, 18Ritma, 19Rimmon-Peres, 20Libna, 21Rissa, 22Kehelata, 23Har-Sefer, 24Garada, 25Makhelot, 26Tagat, 27Terag, 28Mitka, 29Gasmona, 30Moserot, 31Bene-Jaäkan, 32Gor-Gidgad, 33Jotbata, 34Abrona, 35Esjon-Geber, 36Kades in die Sinwoestyn, 37en die berg Hor aan die grens van Edom. 38In opdrag van die Here het die priester Aäron teen Hor uitgeklim en daar op die eerste van die vyfde maand gesterf, 40 jaar nadat die Israeliete uit Egipte weg is. 39Aäron was toe 123 jaar oud.
40Die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Negev, die suidelike woestyngebied van Kanaän, gewoon het, het gehoor dat die Israeliete aan die kom is. 41Die Israeliete het Hor verlaat en by Salmona kamp opgeslaan. 42Van daar af het hulle by die volgende plekke kamp opgeslaan: Punon, 43Obot, 44Ije-Abarim aan die grens van Moab, 45Dibon-Gad, 46Almon-Diblatajim, 47die Abarimberge regoor Nebo 48en die Moabsvlakte langs die Jordaanrivier regoor Jerigo. 49Daar langs die Jordaanrivier, tussen Bet-Jesimot en Abel-Sittim, het hulle kamp opgeslaan.
God se opdrag oor die nuwe land
50Daar in die vlakte van Moab aan die oorkant van die Jordaanrivier regoor Jerigo het die Here vir Moses die volgende opdragte gegee: 51“Sê vir die Israeliete: As julle oor die Jordaanrivier trek in die land Kanaän in, 52moet julle al die inwoners van die land wegjaag. Julle moet al hulle uitgesnyde en gegote afgode vernietig en hulle offerplekke verwoes. 53Neem die land in en gaan bly daar, want Ek gee dit vir julle. 54Julle moet die land verdeel deur die stamme volgens hulle getalle te laat lootjies trek. Die groter stamme moet meer grond kry as die kleiner stamme. Hierdie verdeling is finaal. Die verskillende stamme moet elkeen op hulle eie grond bly. 55Wees gewaarsku, as julle nie al die oorspronklike inwoners van hierdie gebied uit die land uit verdryf nie, gaan hulle vir julle groot probleme veroorsaak. Hulle sal net so irriterend wees soos ’n splinter in ’n mens se oog of ’n doring op ’n ongemaklike plek. Hulle sal julle in julle eie land aanval en teen julle oorlog maak. 56En dan straf Ek julle soos Ek van plan was om hulle te straf!”

Tans Gekies:

Numeri 33: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid