Numeri 2

2
Die kamp word opgestel
1Die Here het vir Moses en Aäron die volgende instruksies gegee: 2“Wanneer die Israeliete kamp opslaan, moet julle aan elke groep ’n sekere gebied toeken waar hulle hulle tente moet opslaan. Hulle moet ook hulle eie vlag daar laat waai. Die tent waar Ek aanbid word, moet in die middel van die kamp wees met die ander tente so ’n ent weg reg rondom die tabernakel opgeslaan.
3“Die stam van Juda moet hulle kamp aan die oostekant, waar die son opkom, opslaan. Hulle moet by hulle vlag bly, en ingedeel in leërafdelings. Amminadab se seun Nagson is die leier van die stam. 4Juda se soldate is 74 600. 5Die stam van Issaskar moet langs Juda kamp opslaan. Suar se seun Netanel is die leier. 6Hulle het 54 400 soldate. 7Daarna volg die stam Sebulon met Gelon se seun Eliab as leier. 8Hierdie stam het 57 400 soldate. 9Die totaal van al die troepe in Juda se kamp is 186 400 soldate. Hierdie drie stamme moet altyd eerste trek as julle julle kamp verskuif.
10“Die stam van Ruben moet aan die suidekant kamp opslaan, by hulle vlag, en hulle moet ingedeel word in verskillende leërafdelings. Sedeür se seun Elisur is die leier van die stam. 11Ruben se getal soldate is 46 500. 12Die stam van Simeon moet langs Ruben kamp opslaan. Suri-Saddai se seun Selumiël is die leier van die stam. 13Daar is 59 300 soldate in die stam. 14Daarna volg die stam van Gad met Reüel se seun Eljasaf as hulle leier. 15Sy getal soldate is 45 650. 16Die totaal van die troepe onder leiding van Ruben is altesaam 151 450 soldate. Hierdie stamme moet altyd tweede trek.
17“Die Leviete met die tent van aanbidding moet altyd in die middel van die ander groepe bly wanneer hulle trek. Die stamme moet in dieselfde posisie bly waarin hulle ingedeel is en elke groep moet hulle eie vlag dra.
18“Die stam Efraim moet aan die westekant kamp opslaan, by hulle vlag en ingedeel volgens verskillende leërafdelings. Ammihud se seun Elisama is die leier van daardie stam. 19In sy stam is daar 40 500 soldate. 20Die stam van Manasse moet langs Efraim kamp opslaan, met Pedasur se seun Gamliël as sy leier. 21Die stam het 32 200 soldate. 22Daarna volg die stam van Benjamin met Gidoni se seun Abidan as leier. 23Die stam het 35 400 soldate. 24Die totaal van die troepe onder leiding van Efraim is altesaam 108 100 soldate. Hierdie stamme moet altyd derde trek.
25“Die stam van Dan moet aan die noordekant kamp opslaan by hulle vlag en volgens hulle leërafdelings. Ammi-Saddai se seun Agiëser is die leier van hierdie stam. 26Dan se getal soldate is 62 700. 27Die stam van Aser moet langs Dan kamp opslaan. Okran se seun Pagiël is die leier van die stam. 28Aser se getal soldate is 41 500. 29Daarna volg die stam van Naftali met Enan se seun Agira as leier. 30Die getal soldate binne dié groep is 53 400. 31Die totaal van die troepe onder leiding van Dan is altesaam 157 600 soldate. Hierdie stamme moet laaste trek.”
32Dit was dan die totaal van al die Israeliete, volgens hulle families. Al die geteldes in die kampe, ingedeel in verskillende leërafdelings, was 603 550 soldate. 33Soos die Here vir Moses beveel het, is die Leviete se getalle nie hierby ingereken nie. 34Die Israeliete het presies gedoen wat die Here vir Moses gesê het. Hulle het elkeen by hulle eie vlag kamp opgeslaan en dit saamgedra as hulle weer weggetrek het. Elke stam was ook ingedeel volgens hulle familiegroepe.

Tans Gekies:

Numeri 2: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid