Lukas 17

17
Volgelinge van Christus vergeef en doen wat Hy sê
1Toe sê Jesus vir sy volgelinge: “Dis nou maar eenmaal so dat daar allerhande sondes en versoekings in hierdie wêreld is. Maar Ek sê vir julle: daar wag groot probleme op almal wat hierdie sondes uitdink. 2Veral as hulle maak dat een van my klein kindertjies in die sonde val en die spoor byster raak. Sulke mense is dan beter daaraan toe in die middel van die see met ’n reuserots om die nek, want God gaan hulle verskriklik swaar straf.
3“Sorg dat jy elke dag op die regte pad bly. Wanneer dinge skeefloop tussen jou en ander gelowiges, gaan stel dit dadelik reg. Veral wanneer ’n ander gelowige ’n lelike ding aan jou doen. Gaan spreek hom daaroor aan. As hy jammer is daaroor, moet jy hom dadelik vergewe en daarvan vergeet. 4Ja, al doen hy sewe keer elke dag lelike dinge aan jou en hy kom sê sewe keer vir jou: ‘Ek is verskriklik jammer oor wat ek gedoen het. Vergewe my, asseblief,’ dan moet jy dit doen.”
5Toe sê Jesus se twaalf apostels vir Hom: “Here, dis so moeilik om al hierdie dinge te doen wat U sê. En ons geloof is so klein. Gee ons asseblief nog geloof.”
6“Julle sê julle wil meer geloof hê,” het Jesus dadelik gereageer. “Weet julle, julle hoef nie baie geloof te hê om groot dinge vir die Here te doen nie. ’n Klein bietjie is meer as genoeg. Gebruik dit net! Kyk, as julle geloof maar net so groot soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie vrugteboom gesê het: ‘Skuif! Gaan staan daar in die middel van die see.’ Dan sou die boom na julle geluister en see toe geskuif het.”
Die Here se werkers word nie op die skouer geklop nie
7“Wanneer julle iemand aanstel om in julle tuin te werk en om elke dag vir julle kos te maak, moet hy dit doen. As hy na ’n lang dag se werk in die tuin in die kombuis kom, 8sê julle mos nie vir hom nie: ‘Toemaar, jy hoef nie meer kos te maak nie. Kom sit gou hier op my plek aan die tafel. Omdat jy so moeg is, sal ek maar kos maak.’
“Nee, natuurlik nie. Julle sal eerder vir hom sê: ‘Toe, kry gou-gou die aandete gereed. Trek vir jou skoon klere aan en kom bedien ons. As ek en my gaste klaar geëet het, moet jy ook sorg dat alles opgeruim is. Daarna kan jy iets gaan eet.’
9“Is dit nodig om daardie werker te smeek om elke dag in die tuin te werk of om die kos te maak? Moet julle heeltyd op julle knieë staan en hom soebat? Nee, natuurlik nie.
10“So gaan dit ook met julle wanneer julle My dien. Wanneer julle alles gedoen het wat Ek vir julle gesê het om te doen, hoef Ek mos nie ’n sertifikaat vir goeie diens aan julle te gee nie. Nee, julle is mos in my diens. Julle moet doen wat Ek sê. Al wat julle van julle kant af hoef te sê, is: ‘Ons is so gelukkig dat Jesus ons gekies het om sy dienaars te wees. Ons verdien dit nie. Daarom is dit ons plig om alles te doen wat Hy sê.’”
Tien melaatses word gesond, maar
net een glo hy is vir altyd gesond
11Op pad Jerusalem toe het Jesus deur Samaria en Galilea gereis. 12In een van die dorpe het tien melaatses op Hom afgekom. Hulle het ’n lelike velsiekte gehad wat veroorsaak het dat hulle nie tussen ander mense kon bly nie. Hulle het ’n hele ent van Jesus af gaan staan omdat hulle nie toegelaat is om naby gesonde mense te kom nie. 13Hulle roep toe hard uit: “Jesus, groot Leermeester, kry ons asseblief tog jammer!”
14Jesus sê toe vir hulle: “Gaan dadelik na die priester toe. Laat hy vir julle ’n sertifikaat gee as bewys dat julle gesond is.”
15Op pad soontoe het hulle melaatsheid verdwyn. Hulle vel was skielik weer normaal. Een van die mans was so bly daaroor dat hy dadelik omgedraai het. Hy het hardop begin bid en God se Naam grootgemaak. 16Die man het tot by Jesus gehardloop, voor Hom in die stof neergeval en vir Hom dankie gesê. Hy was ’n Samaritaan.
17Toe sê Jesus vir hom: “Julle is mos tien persone wat nou net gesond geword het. Nou waar’s die ander nege dan? 18Dit lyk My hulle glo nie God het hulle eens en vir altyd genees nie. Daarom dat hulle nie omgedraai en kom dankie sê het soos jy nie. Jy begryp baie beter as daardie nege Israeliete wie Ek is. 19Staan nou op en gaan in vrede. Jou geloof het gemaak dat jou saak met God nou in orde is.”
Wanneer kom God se nuwe wêreld in al sy glorie?
20Die Fariseërs het op ’n dag vir Jesus gesê: “Kyk, jy praat so baie oor God se nuwe wêreld. Sê vir ons, wanneer gaan dit aanbreek?”
21“Julle verstaan My heeltemal verkeerd,” het Jesus geantwoord. “Wanneer Ek vir julle sê dat God se nuwe wêreld hier is, bedoel Ek nie dat dit iets is wat julle met die blote oog kan sien nie. Mense kan byvoorbeeld nie sê: ‘God se nuwe wêreld is in daardie dorp’ of: ‘God se nuwe wêreld is hier in ons stad’ nie. Nee, God se nuwe wêreld is iets wat binne-in jou lewe gebeur. Wanneer jy aan my kant kom staan, verander jou lewe van binne af. Dan is jy ’n burger van God se nuwe wêreld.”
22Toe draai Jesus na sy volgelinge toe en sê vir hulle: “Ek moet egter nog iets oor God se nuwe wêreld vir julle sê. Daar gaan wel ook ’n dag aanbreek wanneer almal hierdie nuwe wêreld met hulle eie oë sal sien. Dit is op dié dag wanneer Ek, die Seun van die mens, terugkom na hierdie wêreld toe. Maar totdat dit gebeur, wag daar swaar tye op julle. Baie dae sal julle bid dat die Seun tog moet terugkom, maar dit sal nie gebeur nie.
23“Moet julle nie steur aan almal wat gedurig sommetjies maak oor wanneer die Seun gaan terugkom nie. As iemand julle probeer wysmaak dat hulle weet, lag hulle uit. As hulle sê: ‘Kom, die Messias is in die stad,’ vergeet dit. Of as hulle sê: ‘Hy is daar anderkant,’ moenie die moeite doen om te gaan kyk nie. Moenie ’n woord daarvan glo nie.
24“Wees verseker: almal sal weet wanneer die Seun van God terugkom; almal. Julle het mos al gesien hoe die weerlig in die nag ver op die horison slaan en die hele hemelruim verlig. Dan kan jy ’n oomblik lank alles om jou sien. Wel, wanneer die Seun kom, sal almal Hom net so helder en duidelik sien. 25Maar voordat dit alles gebeur, lê daar eers ’n baie moeilike tyd vir My voor. Eers moet die mense My verwerp en doodmaak.
26“Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel. Julle almal ken die verhaal van Noag. Wel, terwyl Noag die ark gebou het, het die ander mense om hom normaal aangegaan asof niks gebeur nie. 27Al wat vir hulle saak gemaak het, was om elke dag te eet en te drink en om te wonder wie nou weer met wie getrou het. Toe klim Noag in die ark. Daarna het dit begin reën en reën. Uiteindelik het alles weggespoel. Ja, daar het niks oorgebly nie.
28“Nog ’n voorbeeld: julle onthou mos nog vir Lot. In sy tyd het dit presies net so gegaan. Die mense het normaalweg met hulle lewens aangegaan. Hulle het besigheid gedoen, partytjies gehou, hulle lande bewerk en huise gebou. 29Toe gee Lot uit Sodom pad. Vuur en swael het op Sodom begin neerreën. Almal was dood. 30Dit sal presies net so gaan wanneer die Seun van die mens terugkom. 31Dan sal daar nie vir mense tyd wees om te vlug nie. As jy op jou stoep sit, moenie eers gou in jou huis ingaan om iets te vat nie. Dit gaan in elk geval nie help nie. En as jy buite op die lande werk, moenie eers teruggaan huis toe om skoon klere te gaan aantrek nie. Moet ook nie al jou kosbare besittings gaan haal nie. Nee, gee pad! 32Onthou wat met Lot se vrou gebeur het. Toe sy teruggekyk het na haar stad daardie dag toe God dit vernietig het, het sy op die plek in ’n soutpilaar verander.
33“Op daardie dag wanneer die Seun kom, sal dit te laat wees om gou met God te probeer vrede maak. Sorg dat julle lewe nou al in orde is. As julle God nou al dien, sal julle op daardie dag gered word. Maar as julle nou niks met Hom te doen wil hê nie, sal julle op daardie dag veroordeel word.
34“Wanneer die Seun terugkom, sal dit ’n dag van groot skeiding tussen mense wees. In dieselfde huis sal die ma byvoorbeeld gereed wees vir my koms, maar nie die pa nie. Ek sal haar saamvat na my splinternuwe wêreld toe en hom los. 35Net so sal twee vroue saam in die kombuis werk - Ek sal die een kom haal en die ander een los. Dieselfde sal ook by die werk gebeur. 36Twee mans sal saam werk - die een sal reg wees en die ander een nie. Sorg dat jy die een is wat reg is sodat Ek jou kan saamvat wanneer Ek weer kom!”
37Toe vra die dissipels: “Waar gaan al hierdie dinge gebeur?”
“Sommer daar tussen julle,” het Jesus geantwoord. “Daar waar die mense is, sal die aasvoëls op hulle almal toesak.”

Tans Gekies:

Lukas 17: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid