Levitikus 15

15
Afskeidings wat by mans voorkom
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Sê vir die Israeliete dat die man uit wie se geslagsdeel daar vog uitkom, nie naby my tent mag kom nie. Ek wil hom nie daar hê nie. 3Of sy afskeiding nou iets is wat vloei en of dit gestol het in sy geslagsdeel, dit is nie vir My aanvaarbaar nie. 4Enige bed waarop hierdie persoon slaap of enige stoel waarop hy gaan sit, is vuil. 5-6Enigiemand anders wat op sy bed kom lê, of op die stoel gaan sit waarop hy gesit het, moet eers sy klere en homself gaan was. Hy het self ook tot aan die einde van die dag onrein vir My geword. 7Selfs wanneer iemand net aan hierdie man raak, is daardie persoon self ook aangetas tot aan die einde van die dag. Hy moet sy klere en homself gaan was. 8Wanneer die man se spoeg miskien op iemand wat vir God reg is te lande kom, moet daardie persoon ook sy klere en homself gaan was. Hy sal vuil wees tot die aand. 9Enige saal vir ’n dier waarop hierdie man ry, word vuil. 10Enigiemand wat raak aan iets waarop hierdie man gesit het of dit ronddra, word ook onaanvaarbaar vir die res van die dag. Hy moet sy klere en homself gaan skoonmaak. 11Elkeen aan wie hierdie man raak terwyl hy nog nie sy hande gewas het nie, sal ook vir die res van die dag onrein vir My wees. Daardie persoon moet sy klere gaan was en ook homself. 12Enige kleipot waaraan hierdie man vat, moet stukkend gebreek word. Enige houtbak waaraan hy vat, moet met water uitgespoel word.”
Wanneer hy daarvan ontslae geraak het
13“Van die dag dat die man se afskeiding opgehou het, moet hy sewe dae aftel. Hy moet dan sy klere was. Hy moet ook homself in lopende water gaan was. Dan mag hy weer voor die Here by sy tent kom. 14Op die agtste dag gaan hy na die Here toe. Hy gaan na die ingang van die tent waar hy die Here kan ontmoet. Hy vat twee tortelduiwe of gewone duiwe saam en gee dit vir die dienaar by die tent. 15Die dienaar offer een van hulle vir die sonde en die ander verbrand hy heeltemal op die altaar. So help die dienaar dan die man wat die afskeiding gehad het, om weer voor die Here te kan kom.
16“As ’n man saad gestort het, moet hy sy hele lyf was. Hy is vir die Here onaanvaarbaar vir die res van die dag. 17Enige klere of stuk leer waarop sy semen beland het, moet gewas word. Dit kan vir die res van die dag nie weer gebruik word nie. 18Na ’n man en ’n vrou saam geslaap het, moet al twee hulleself was. Hulle mag vir die res van die dag nie by die Here se tent kom nie.”
’n Vrou wat menstrueer
19“Wanneer ’n vrou menstrueer, mag sy vir sewe dae nie by die Here se tent kom nie. As iemand aan haar raak, mag hy ook nie by die Here se tent kom vir die res van die dag nie. 20Enigiets waarop sy slaap of waarop sy sit terwyl sy menstrueer, kan nie verder gebruik word nie. 21-22Enigeen wat aan die bed raak waarop sy slaap of aan iets vat waarop sy gesit het, moet sy klere en homself gaan was. Hy mag self vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie. 23Selfs al vat hy net aan iets wat op haar bed of haar stoel gelê het, mag hy nie naby die Here kom nie. 24As ’n man gedurende haar maandstonde by haar slaap, affekteer dit hom ook en mag hy vir sewe dae nie naby die Here se tent kom nie. Selfs die bed waarop hy dan slaap, word ook onbruikbaar.
25“As ’n vrou ongereeld is en buite haar gewone tyd menstrueer, of dit hou tydens die normale tyd buitengewoon lank aan, is sy vir hierdie tyd ook uitgesluit. 26Soos tydens haar menstruasie is enige bed waarop sy lê en enige stoel waarop sy sit, in hierdie tyd ook onbruikbaar. 27Enigeen wat daaraan vat, moet wegbly van die Here se tent. Hy moet sy klere en homself gaan was. Hy mag vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie.
28“Sodra sy ophou bloei, moet sy sewe dae aftel. Daarna kan sy weer by God se tent kom. 29Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of enige ander duiwe saamvat na die ingang van die tent waar God hulle ontmoet. 30Die dienaar slag een duif vir die sonde en die ander een verbrand hy op die altaar. So help hy haar om weer voor die Here te kan kom nadat sy vir die tyd van haar menstruasie nie daar welkom was nie.”
Opsomming
31“Julle moet die Israeliete waarsku teen hierdie dinge wat hulle van My af weghou sodat hulle nie sommer daar by my tent in die middel van die kamp kom en Ek hulle laat doodgaan nie. 32Dit is dan die reëls vir ’n man wat nie naby die tent mag kom nie, omdat daar afskeiding uit sy geslagsorgaan was of omdat hy saad gestort het, 33vir ’n vrou wat menstrueer, vir ’n man of vrou by wie daar onreëlmatige afskeiding is en vir ’n man wat by ’n vrou geslaap het wat menstrueer.”

Tans Gekies:

Levitikus 15: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid