Job 13

13
Job kla oor sy vriende
1Job het gesê: “Alles wat julle beskryf het, het ek voorheen gesien en gehoor. Ek verstaan goed wat julle sê. 2Ek weet net soveel as wat julle weet. Julle moenie dink julle is beter as ek nie. 3Ek wens darem dat ek self met God kan praat, al is Hy so vreeslik magtig. Ek sal bitter graag vir Hom wil sê hoe ek oor dinge voel. 4Julle weet nie veel nie en smeer dit met ’n spul leuens toe. Julle is ’n spul nikswerd dokters wat ’n mens nie regtig kan help nie. 5Bly net ’n slag stil! Dit is die slimste ding wat julle kan doen. 6Luister net ’n slag wat ek te sê het. Hoor ’n bietjie my kant van die saak.
7“Probeer julle God met julle leuens en oneerlike argumente verdedig? 8Julle is veronderstel om onpartydig te wees, maar ek sien julle kies God se kant van die saak. Julle verdedig sy standpunt. 9Wat dink julle sal gebeur as Hy in julle sake begin krap? Julle moet nie vir ’n oomblik dink dat julle Hom om die bos kan lei soos julle met mense maak nie. 10Hy sal hard met julle praat as Hy moet uitvind dat julle partydig is. Dit maak nie eens saak of julle vir Hom partydig is of dink julle doen dit in die geheim nie. 11Hy is magtig. Maak dit julle nie bang nie? Gryp vrees vir Hom julle nie vas nie? 12Die slim goed wat julle kwytraak, is nie veel meer werd as uitgebrande as nie. Die argumente wat julle gebruik om julleself te verdedig is so broos soos ’n kleipot.”
Job stel sy saak
13Job het verder gesê: “Bly net ’n slag stil en los my uit! Ek wil my sê sê, maak nie saak wat met my gebeur nie. 14Ek sal my lewe in my eie hande neem om te kan sê wat ek regtig dink. 15Ek weet God kan my doodmaak, maar dit maak nie saak nie. Daar is in elk geval nie meer hoop vir my nie. Ek wil by God uitkom en my saak stel. 16Wat my redding behoort te wees is dat slegte mense dit nie sal waag om na Hom toe te kom nie. Ek is nie soos hulle nie, ek is gehoorsaam.”
17Job het gesê: “Luister mooi wat ek nou gaan sê. 18Ek het my feite mooi agtermekaar. Dit sal gou duidelik wees dat ek onskuldig is. 19Ek dink nie daar is iemand wat hieroor met my kan stry nie. As ek verkeerd bewys word, sal ek tot die dag dat ek doodgaan my mond hou.”
20Job het vir die Here gesê: “Daar is twee dinge wat ek wil vra wat U vir my moet doen. As U dit doen, hoef ek nie meer vir U weg te kruip nie. 21Eerstens vra ek dat U my nie meer so swaar sal laat ly nie. Tweedens, moenie dat u geweldige teenwoordigheid my so bangmaak nie. 22Vra maar wat U wil weet en ek sal antwoord. As U dit anders wil hê, sal ek eerste praat en U kan antwoord. 23Het ek baie goed verkeerd gedoen? Wys my alles wat nie reg is nie of waar ek oortree het. 24Hoekom steur U U nie aan my nie? Hoekom maak U asof ek u vyand is? 25Wil U my probeer afskrik? Sal U ’n blaar probeer bangmaak? Ek is niks meer as ’n blaar wat in die wind rondwaai nie. Sal U ’n grashalm agtervolg? Ek is niks meer as ’n grashalm nie. 26Die goed waarvan U my beskuldig, laat ’n bitter smaak in my mond. U gaan krap selfs in die dinge wat ek in my jeug verkeerd gedoen het en gooi my dit voor die kop. 27U het my voete in boeie gesit. U hou elke tree dop wat ek gee. U volg selfs my voetspore. 28En dit terwyl ek besig is om te vergaan, soos iets wat wegvrot. Ek is soos ’n stuk klere wat deur motte gevreet word.”

Tans Gekies:

Job 13: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid