Jeremia 4

4
1“Israel, as julle besluit om weg te breek van wat julle nou doen, kom dan na My toe terug,” sê die Here. “As julle ontslae raak van die haatlike afgode, hoef julle mos nie meer so sonder rigting te wees nie. 2As julle ’n plegtige belofte aflê en my Naam daarvoor gebruik, moet julle die waarheid praat. Begin om reg te lewe. Sorg dat mense regverdig behandel word en doen wat reg is. As julle dit kan regkry, sal julle baie vir die nasies van die wêreld beteken. Hulle reaksie daarop sal wees om te kom en My te aanbid.”
’n Ramp gaan Juda tref
3Dit is wat die Here vir die mense van Juda en Israel te sê het: “Soos ’n mens ’n nuwe land ploeg en voorberei, so moet hulle harte nuut voorberei word. Goeie saad moet nie tussen dorings gesaai word nie. 4Kom staan voor My, die Here, met ’n hart en gedagtes wat skoon is. As dit nie gebeur nie, sal Ek verskriklik kwaad word. Ek word so kwaad vir al die verkeerde goed wat die mense van Jerusalem doen dat my woede soos ’n vuur brand wat niemand kan doodkry nie.
5“Maak ’n aankondiging in Juda en Jerusalem en sê: Maak alarm sodat die hele land dit kan hoor! Skree hard en roep almal om bymekaar te kom en te kom wegkruip in die stede wat spesiaal sterk en veilig gemaak is. 6Stuur ’n sein na Jerusalem toe en waarsku hulle: Moenie wag nie, vlug vir julle lewe! Ek bring ’n groot ramp oor julle. Dit sal uit die noorde na julle toe aankom. 7Iemand wat nasies vernietig, is op pad na julle toe. Hy maak net soos ’n leeu wat uit sy lêplek opstaan en sy prooi bekruip. Hy sal groot skade aan die land doen en verwoesting in julle stede saai. Daar sal geen mense in die stede meer bly nie. 8Trek julle begrafnisklere aan en huil uit julle stukkende harte. Die Here is nog verskriklik kwaad vir ons.”
9Die Here sê: “In daardie tyd sal die koning en die amptenare se moed hulle begewe. Die priesters sal verslae wees en die profete sal verstom staan.”
10Toe het ek gesê: “Ag Here, my God, U het die volk en Jerusalem mos mislei deur te sê dit sal met hulle goed gaan. Hulle lewe is dan nou in gevaar!”
11Dan sal die Here vir hierdie volk en vir die mense van Jerusalem sê: “’n Wind uit die woestyn wat so warm soos vuur is, waai oor die heuwels in die rigting van my volk. Dit is nie ’n ligte windjie waarmee ’n mens die kaf uit graan waai nie. 12Nee, Ek stuur ’n wind wat baie sterker as dit waai. Ondergang is julle voorland,” sê die Here.
13Ons vyand kom soos groot onweerswolke aan. Sy oorlogstuie kom aangejaag soos ’n orkaan. Sy perde is selfs vinniger as arende. Ons staan geen kans nie, dit is verby met ons! 14Jerusalem, was die kwaad uit julle elkeen se hart uit sodat julle gered kan word. Hoe lank wil julle nog rondloop met verkeerde gedagtes? 15Slegte nuus word uit Dan in die noorde en die berge van Efraim gehoor. 16Gaan waarsku die nasies in die omgewing en gee ook vir die mense van Jerusalem die volgende boodskap: “’n Mag wat lande en stede inneem, is uit ’n ver land op pad. Hulle beplan om die stede van Juda aan te val. 17Hulle omsingel Jerusalem net soos ’n mens sou maak om ’n graanland op te pas. Dit gebeur omdat my eie mense teen My in opstand gekom het,” sê die Here. 18“Julle is self die oorsaak dat hierdie slegte goed met julle gebeur. As straf kry julle van julle eie bitter medisyne.”
Dit voel soos ’n mes wat in jou hart steek. 19Dit is vreeslik, ek kan die angs nie uitstaan nie! My hart klop verskriklik, ek kan dit nie rustig kry nie! Ek het gehoor hoe hulle op die trompette blaas om die aanval te begin. Ek het ook die vyand se oorlogskrete gehoor. 20Die een ramp na die ander het gekom totdat die land heeltemal verwoes was. In ’n oogwink is al wat ’n blyplek is, tot niet gemaak. 21Hoe lank gaan dit nog aanhou? Hoe lank gaan hulle nog aanhou om die trompette te blaas? 22Die Here sê: “My volk is dom. Hulle ken My nie. Hulle het nie verstand nie. Dit lyk nie of hulle enigiets verstaan nie. Hulle is net slim as dit by kwaaddoen kom. Van goeddoen weet hulle net mooi niks!”
Jeremia sien die verwoesting wat kom
23Ek het na die aarde gekyk en gesien dat dit woes en leeg was. Ek het ook na die hemel gekyk, en dit was sonder lig. 24Ek het na die berge en die heuwels gekyk, en hulle het gebewe. 25Toe ek weer kyk, kon ek nie enige mense sien nie. Selfs die voëls het weggevlieg. 26Toe ek om my kyk, het ek gesien dat die vrugbare grond ’n woestyn geword het. Die stede het afgebreek gelê, want die Here het hulle platgevee toe Hy verskriklik kwaad was.
27Die Here sê: “Die hele land sal dalk verwoes lê, maar Ek sal dit nie heeltemal tot niet maak nie. 28Die aarde sal huil asof iemand dood is. Die hemel sal ook donker word. Wat is die rede hiervoor? Ek het ’n besluit geneem en Ek gaan doen wat Ek besluit het om te doen. Ek sal nie van plan verander nie.”
29As die mense die geluid hoor van die vyand se magte wat nader kom, sal hulle uit vrees uit die stede vlug. Hulle sal in die bosse wegkruip of hardloop om skuiling in die berge te probeer kry. Al die stede sal leeg staan. Daar sal nie ’n mens in hulle oorbly nie. 30Wat probeer jy doen, Jerusalem? Jy is ’n stad wat kaal gestroop is. Hoekom probeer jy aandag trek deur ’n rooi rok aan te trek? Hoekom trek jy feesklere aan en behang jy jou met juwele? Hoekom kleur jy jou oë in met maskara? Jy maak jou verniet mooi. Jou bondgenote sal geen respek vir jou hê nie en sal jou doodmaak. 31Ek hoor ’n uitroep van pyn. Dit klink net soos ’n vrou wat haar eerste kind in die wêreld bring. Dit is die mense van Jerusalem wat so hyg om asem te kry. Hulle steek hulle hande in wanhoop uit en sê: “Ons voel ellendig. Ons is so kwesbaar voor die moordenaars!”

Tans Gekies:

Jeremia 4: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid