Jeremia 30

30
Die Here se beloftes vir sy mense
1Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. 2Hy het gesê: “Die Here is die God van Israel en Hy sê: Skryf alles wat Ek vir jou gesê het, in ’n boek. 3Die tyd kom dat Ek dinge vir my mense weer sal maak soos dit vroeër was. Ek sal hulle laat terugkom na hierdie land wat Ek vir hulle voorouers gegee het. Hulle sal weer aan die land dink as hulle eie en hier bly.”
4Dit is wat die Here vir Israel en Juda te sê het. 5Hy sê: “Ek het die angstige uitroepe van my mense gehoor. Daar is vrees en geen kalmte nie. 6Ek wil ’n vraag vra: Kan mans babas hê? Nou waarom staan hulle dan bleek in die gesig met hulle hande op hulle heupe soos ’n vrou wat kraampyne voel? 7Dit is ’n verskriklike tyd wat die mense beleef. Nog nooit in die geskiedenis het mense sulke dinge deurgemaak nie. Dit is ’n tyd van baie probleme vir die mense van Israel. Maar op die ou einde sal hulle uit die moeilikheid gered word. 8In dié tyd sal Ek die juk breek wat op my mense se nek druk. Ek sal ook die kettings waarmee hulle vasgemaak is, uitmekaar laat spat. Geen vreemde mense sal meer oor hulle baasspeel nie. Ek is die Here wat sterker as alles en almal is! 9Die mense van Israel sal net vir My as hulle God dien. Verder sal hulle ook net vir iemand uit Dawid se familie as hulle koning dien. Ek sal hom as hulle koning aanstel.”
10Die Here sê ook: “Israel, julle moet nie bang of angstig wees nie. Ek sal julle en julle kinders terugbring uit die land waarheen julle weggevat is, al is dit ook ver. Israel, julle sal weer rus en vrede in julle eie land hê. Julle sal vir niemand bang hoef te wees nie. 11Wees gerus, Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek sal julle uit die hande van julle vyande red. Julle is oral versprei onder die nasies. Hulle sal Ek vernietig, maar julle sal nie vernietig word nie. Maar hoewel Ek julle nie sal vernietig nie, gaan Ek julle nogtans straf. Ek sal julle ’n regverdige straf gee.”
12Die Here sê ook: “Julle toestand is soos ’n wond wat nie gesond kan word nie. ’n Mens kan maar net daaroor huil. 13Daar is niemand wat julle kan help nie. Daar is ook nie medisyne vir julle wonde nie. Verder is daar geen hoop dat julle gesond sal word nie. 14Al die mense met wie julle ooreenkomste aangegaan het om julle te help, het julle in die steek gelaat. Hulle gee nie om wat van julle word nie. Ek het julle aangeval soos ’n mens met ’n vyand sou maak. Ek het julle sonder enige genade gestraf. Julle het baie verkeerde dinge gedoen. Julle is aan soveel goed skuldig, dit is te veel om op te noem. 15Waarom roep julle so hard uit oor julle seerkry? Niks kan die pyn laat verdwyn nie. Ek straf julle omdat julle so baie dinge verkeerd gedoen het. Julle is deur en deur skuldig. 16Maar dit is ook so dat die mense wat julle probeer vernietig, self deur ander vernietig sal word. Al julle vyande sal self ook gevang en na ander lande toe weggevat word. Almal wat julle probeer onderdruk, sal self voel wat dit is om deur ander mense onderdruk en uitgebuit te word. Die mense wat julle besteel, sal op hulle beurt weer deur ander mense besteel word. Mense wat dit waag om julle aan te val sal self aangeval word.”
17Die Here sê: “Ek sal sorg dat dit weer met julle goed sal gaan. Ek sal julle wonde gesond maak. Op die oomblik praat hulle van julle as ‘mense wat verstoot is; Jerusalem vir wie niemand meer omgee nie’. 18Maar Ek sal Israel se omstandighede verander. Ek sal hulle terugbring na hulle ou blyplek toe omdat Ek vir hulle omgee. Jerusalem sal weer op sy ou plek gebou word. Die paleis sal ook herbou word soos dit oorspronklik gelyk het. 19Hulle sal weer vrolik wees en liedere sing omdat hulle dankbaar is. Ek sal sorg dat my mense se getalle groei. Hulle sal ’n groot volk wees wat deur ander gerespekteer word. 20Dit sal met hulle kinders goed gaan soos vroeër. Ek sal weer sorg dat hulle my volk is. As iemand dit sou waag om hulle te onderdruk, sal Ek hulle straf. 21Hulle sal nie deur iemand van ’n ander nasie regeer word nie. Een van hulle eie mense sal koning wees. Ek sal hom nooi om naby My te kom en hy sal kom. Wie sou dit waag om voor My te kom staan as Ek hom nie genooi het nie?” vra die Here. 22“Julle sal my eie mense wees, my volk, en Ek sal julle God wees.”
23Maar neem kennis, die Here se woede is soos ’n storm wat losbars. Dit is soos ’n orkaan wat die slegte mense sal tref. 24Die Here se woede is iets vreesliks. Dit sal nie bedaar nie totdat Hy gedoen het en bereik het wat Hy beplan. As die tyd aanbreek dat hierdie dinge gaan gebeur, sal julle dit verstaan. Alles sal dan duidelik word.

Tans Gekies:

Jeremia 30: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid