Jeremia 27

27
Jeremia dra ’n juk
1Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee om oor te dra. Dit was toe Sedekia as koning van Juda begin optree het. Sedekia was ’n seun van koning Josia. 2Die Here het vir Jeremia gesê: “Maak vir jou ’n juk met gedraaide leerrieme aan, net soos dié wat ’n mens gebruik om osse in te span wat ’n ploeg of ’n wa trek. Sit hierdie dwarshout met die gedraaide rieme aan op jou nek. 3Stuur dan ’n boodskap aan die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon deur hulle verteenwoordigers.” Hierdie verteenwoordigers het na koning Sedekia in Jerusalem gekom. Sedekia was die koning van Juda.
4Jeremia moes hulle opdrag gee om hierdie boodskap aan hulle konings te gaan gee: “Die Here is die God van Israel en is sterker as alles en almal. Hy sê: 5Omdat Ek baie mag en krag het, het Ek die aarde en die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak. Ek kan daarmee maak net wat Ek wil. 6Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek het al julle lande vir hom gegee. Hy sal selfs die baas van die wilde diere wees. 7Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien. Dit sal so aanhou totdat sterk nasies en magtige konings Babel sal oorwin en oor die land sal regeer. 8Julle almal moet die koning van Babel dien. Sit julle nek onder die juk van die koning van Babel. Maar as een van hierdie nasies of lande weier om Nebukadnesar te dien, sal Ek hulle straf,” sê die Here. “Ek sal veroorsaak dat hulle oorlog moet maak. Verder sal Ek hulle honger laat ly en ’n epidemie onder hulle laat uitbreek. So sal dit aanhou totdat Nebukadnesar hulle op die ou end oorwin het. 9Moenie na julle eie profete luister nie. Ook nie na die waarsêers of mense wat sê hulle kan drome uitlê nie. Moet ook nie julle ore uitleen aan fortuinvertellers of towenaars nie. Hulle sê mos vir julle dat julle julle nie aan die koning van Babel sal hoef oor te gee nie. 10Hulle vertel vir julle ’n spul leuens. Dit maak net dat julle uit julle land gedryf sal word. Ek sal julle ver weg stuur en daar sal julle doodgaan. 11Maar al die volke wat hulle aan die koning van Babel oorgee en vir hom werk, sal Ek toelaat om in hulle eie land te bly. Hulle sal kan aangaan om die grond te ploeg en daar te bly soos hulle gewoond was,” sê die Here.
12Ek het toe dieselfde boodskap aan koning Sedekia van Juda herhaal en gesê: “As julle wil bly leef, moet julle julle oorgee aan die koning van Babel. Werk vir hom en sy mense en julle sal bly leef. 13Hoekom wil u en u mense doodgaan in ’n oorlog? Hoekom wil julle van honger of in ’n epidemie sterf? Die Here het gesê dit is wat sal gebeur met enige volk wat hulle nie aan die koning van Babel oorgee nie. 14Moenie luister na julle profete wat sê: ‘Julle sal nie aan die koning van Babel oorgegee word nie.’ Hulle vertel vir julle ’n spul leuens! 15Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle is vermetel om namens My te praat en dan verkondig hulle nog ’n spul leuens ook! Hulle sal die oorsaak wees dat Ek julle uit julle land sal wegjaag. Julle en hierdie profete met hulle leuens sal doodgaan.”
16Ek het toe met die priesters en die mense gepraat en gesê: “Die Here sê: Moenie luister na julle profete wat sê dat al die kosbare goed wat uit die tempel van die Here weggevat is, gou uit Babel hiernatoe sal terugkom nie. Hulle lieg vir julle! 17Moenie na hulle luister nie. Gee julleself aan die koning van Babel oor en julle sal bly leef. Hoekom moet hierdie stad verwoes word omdat julle julle ore aan hulle uitleen? 18Hulle sê hulle is die Here se boodskappers. As dit so is, laat hulle dan tot die Here wat sterker as alles en almal is, bid. Laat hulle Hom dan vra dat die kosbare goed wat in die tempel van die Here oorgebly het, in die paleis in Juda en in Jerusalem nie na Babel toe weggevat word nie. 19Die Here het reeds gesê wat met die koperpilare by die ingang van die tempel gaan gebeur. Hy het ook gesê wat met die groot koperbad, die staanders en die ander bakke wat nog in hierdie stad oor is, gaan gebeur. 20Jojagin was destyds die koning van Juda. Hy was die seun van koning Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het vir Jojagin en ’n groot klomp van die belangrikste mense van Juda en Jerusalem na Babel ontvoer. Maar toe hy dit destyds gedoen het, het hy van die kosbare goed net so in die tempel en die paleis gelos. 21Maar hoor wat sê die Here oor hierdie kosbare goed wat in die tempel en die paleis van die koning van Juda is: 22Hy sê: Al hierdie goed sal na Babel toe weggedra word. Daar sal dit bly totdat Ek eendag wil hê dit moet terugkom. As die tyd reg is, sal Ek alles weer na Jerusalem toe terugbring.”

Tans Gekies:

Jeremia 27: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid