Jesaja 31

31
Om op Egipte te vertrou help niks
1Daar wag swaarkry op dié wat by Egipte hulp gaan soek. Hulle maak staat op Egipte se geweldige militêre mag; op hulle soldate en hulle strydwaens. In plaas daarvan om op die heilige God van Israel te vertrou is dit waar hulle vertroue lê. 2Die Here is tog die Een wat weet wat Hy doen. Dit is Hy wat die rampe stuur. Niks laat Hom van plan verander nie. Hy sal die kwaaddoeners en hulle bondgenote saam straf. 3Die Egiptenaars is mense, beslis nie gode nie, en hulle perde is vlees en bloed, beslis nie bonatuurlike wesens nie. Wanneer die Here sy arm optel en hulle klap, val hulle om soos ’n veertjie; die arme swakker nasie wat op hulle vertrou het, word deur dieselfde lot getref. Hulle sal saam vernietig word.
4Die Here het vir my gesê: Soos ’n leeu of ’n jong leeu, nadat hy ’n skaap gevang het, lê en grom om dit op te pas en hom nie steur aan die geraas van die groep skaapwagters wat hom probeer verjaag nie, net so laat die Here niemand toe om te probeer vat wat aan Hom behoort nie. Daar is niks wat die Here die Almagtige kan keer om te kom en op die berg Sion te kom veg vir wat Syne is nie. 5Net soos ’n voël heen en weer oor sy nes vlieg om dit te beskerm, so sprei Ek, die Here die Almagtige, my arms oor Jerusalem uit om die stad te beskerm.
6My volk, al is julle opstandige rebelle, draai terug na die Here toe! 7Ek weet daar kom ’n dag dat julle almal al die sondige goue en silwer afgodsbeelde wat julle gemaak het, sal weggooi. 8Dan sal die Assiriërs doodgemaak word, maar nie met mensgemaakte wapens nie. Nee, hulle sal vlug voor die Here en hulle jongmans sal weggevat word om slawearbeid te gaan verrig. 9Assirië se koning op wie hulle al hulle hoop gevestig het, sal paniekbevange op die vlug slaan. Hulle offisiere sal vol vrees van die slagveld af weghardloop en hulle soldate net so in die steek laat. So sê die Here ter ere van wie die vuur op die altaar in Sion vir die offers brand en ter ere van wie die altaar in Jerusalem van die brandoffers rook.

Tans Gekies:

Jesaja 31: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid