Eksodus 11

11
Die laaste ramp
1Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal nog een laaste ramp oor die farao en Egipte bring. Na hierdie een hom getref het, sal hy julle toestemming gee om te gaan. Om die waarheid te sê, hy sal julle eintlik wegjaag. 2Jy moet vir die volk sê om daarop te staan dat hulle Egiptiese bure vir hulle silwer en goue juweliersware gee voor hulle hier weggaan.” 3Die Here het die Egiptenaars laat kopgee vir sy volk. Die koning se mense en die volk van die land was baie bang vir Moses.
Die oudste kinders gaan sterf
4Moses sê toe: “Die Here het gesê dat Hy om middernag deur Egipte sal gaan. 5Deur die hele Egipte sal die eersgebore seun in elke huis doodgaan. Van die farao se oudste seun wat na sy pa koning moes word, tot by die seun van die eenvoudigste slavin wat koring maal op die maalklip, sal dan doodgaan. Selfs onder die vee sal die een doodgaan wat eerste gebore is. 6Daar sal ’n droewige gehuil in die hele Egipte wees. Dit sal so erg wees soos dit nog nooit tevore gesien is en soos dit nooit weer gehoor sal word nie. 7Maar niemand sal eers ’n vinger oplig teen enige Israeliet nie, teen geen mens of dier by hulle nie. So sal dit duidelik word dat die Here anders maak met die Egiptenaars as wat Hy met die Israeliete maak.
8“Dan sal al jou leiers voor my kom kruip. Hulle sal my soebat dat ek en my volgelinge asseblief maar moet weggaan. En as dit klaar gebeur het, sal ek uit die land uit weggaan.” Moses het toe woedend van die farao af weggegaan.
9Die Here het vir Moses gesê: “Die farao sal nog steeds nie na julle luister nie, maar dit sal My kans gee om nog meer dinge in Egipte te laat gebeur.”
10Al het Moses en Aäron al hierdie dinge voor die farao gedoen, het die Here gemaak dat hy hardekop gebly het. Hy het aanhou weier om die Israeliete uit sy land uit te laat weggaan.

Tans Gekies:

Eksodus 11: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid