Deuteronomium 11

11
Israel het die Here se krag gesien
1“Julle moet die Here julle God liefhê en lewenslank al sy wette en voorskrifte gehoorsaam. 2Onthou al die wonderlike dinge wat die Here julle geleer en vir julle gedoen het. Julle het immers alles self gesien, want dit het met julle gebeur en nie met julle kinders nie. Julle het self sy grootsheid, sy mag en sy krag beleef. 3Julle het gesien wat Hy alles in Egipte en aan die farao gedoen het; 4wat met die Egiptiese weermag gebeur het; wat Hy met al die perde en ruiters wat julle agtervolg het, gemaak het; hoe almal in die see beland en verdrink het. 5Julle weet hoe die Here julle in die woestyn gehelp het en hoe Hy julle tot hier in Bet-Peor gelei het. 6Julle onthou ook nog wat Hy met die seuns van Eliab, Datan en Abiram, van die Rubenstam gedoen het: hoe die aarde voor die hele Israel oopgeskeur het en hoe Datan en Abiram, saam met hulle vroue en kinders, hulle werkers en besittings daarin geval het. 7Ja, julle is die mense wat al hierdie magtige dade van die Here gesien en beleef het.”
Die nuwe land is wonderlik
8“Israel, leef volgens die wil van die Here sodat julle innerlik sterk kan word en die nuwe land kan binnetrek. 9Wees getrou sodat julle lank in daardie vrugbare land kan bly wat die Here al aan julle voorvaders beloof het. 10Dié land is anders as Egipte. Daar het julle saad geplant en dan moes julle hard werk om dit soos ’n groentetuin nat te lei. 11In die land waarheen julle op pad is, is dit heeltemal anders. Daar is net berge en vlaktes en almal is van reënwater afhanklik. 12Die Here sal egter vir die land sorg en oor alles waghou. 13As julle na al die voorskrifte luister wat ek julle vandag gee, as julle die Here werklik liefhet en Hom met oorgawe dien, 14sal Hy altyd reën op die regte tyd stuur. Jy sal lente- sowel as somerreëns kry, sodat jy genoeg koring, wyn en olie sal hê. 15Ook vir jou vee sal daar oorgenoeg gras wees. Julle sal almal eet en drink en versadig wees. 16Moet egter nie deur ander gode verlei word nie. Moet nooit ander gode dien nie. 17As julle dit doen, sal julle die Here teleurstel en kwaad maak. Dan sal Hy die hemel toesluit sodat daar nie meer reën sal val nie. Hy sal ook nie langer sorg dat die land sy vrug gee nie. Binne ’n kort tydjie sal julle dan die land wat die Here so graag vir julle wil gee, moet verlaat.
18“Al die woorde wat ek julle vandag leer, moet julle in julle hart bêre en altyd daaraan dink. Maak dit aan julle arms vas en bind dit styf om julle voorkop. 19Julle moet ook julle kinders daarvan vertel en julle moet oral daaroor praat. Of julle nou in julle huis sit of op pad is of ’n bietjie gaan lê of weer opstaan, julle moet altyd daaroor nadink. 20Skryf dit op julle huise se deurkosyne en op die groot hekke van die stad. 21Dan sal julle en julle kinders lank en gelukkig in die land leef wat die Here vir julle voorouers beloof het. Julle sal in daardie land woon so lank as wat daar ’n hemel en ’n aarde is.
22“Leef getrou volgens al die voorskrifte wat ek julle vandag gee. As julle die Here liefhet en sy wil streng uitleef, 23sal Hy al die nasies wat in die land woon waarheen julle op pad is, verdryf sodat julle daar kan gaan bly. Hy sal nasies vernietig wat baie groter en sterker as julle is. 24Elke plek waar julle in die land rondstap, sal julle s’n word. Die hele gebied van die woestyn af tot by die Libanonberg in die noorde en van die Eufraatrivier in die ooste tot by die Middellandse See in die weste. 25Waar julle ook al gaan, sal julle die ander nasies oorwin. Niemand sal teen julle standhou nie. Die Here sal sorg dat almal vir julle bang is.”
Seën en vloek
26“Vandag moet julle tussen ’n seën en vloek kies. 27Indien julle al die gebooie van die Here gehoorsaam wat ek julle vandag hier gee, sal dit met julle sommer baie goed gaan. 28Indien julle ongehoorsaam is en die rug vir die Here draai en ander vreemde gode aanbid, sal ’n vloek op julle rus. 29Wanneer julle die Beloofde Land binnegegaan en daar gaan woon het, moet julle op die berg Gerisim die seën van die Here uitroep en op die Ebalberg sy vloek. 30Hierdie twee berge lê aan die westekant van die Jordaan in die gebied van die Kanaäniete wat in die Jordaanvallei woon en digby Gilgal se waarsêersboom. 31Julle staan op die punt om die Jordaan oor te steek en die land in besit te neem wat die Here graag vir julle wil gee. 32Wanneer julle in die land woon, sorg dat julle volgens hierdie gebooie leef wat ek julle vandag gee.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid