Handelinge 12

12
Jakobus sterf, Petrus word gevang
1In daardie tyd het koning Herodes begin om die gelowiges in Jerusalem wreed te vervolg. 2Hy het selfs vir Jakobus, die broer van Johannes, laat doodmaak. Die godsdienstige leiers van die Jode was baie bly daaroor. 3Dit het Herodes aangespoor om ook vir Petrus te laat vang en in die tronk te gooi. Dit was gedurende die paastyd.
4Herodes wou doodseker maak dat Petrus nie uit die tronk ontsnap nie. Daarom het hy vier groepe van vier soldate elk aangestel om hom dag en nag op te pas. Sodra die paasfees verby was, wou Herodes vir Petrus in die openbaar verhoor.
5Terwyl Petrus in die tronk was, het die gemeente baie ernstig tot God gebid dat Hy hom moes help.
Petrus word uit die tronk bevry
6Die nag voordat Petrus voor Herodes sou verskyn, het hy tussen twee wagte aan die slaap geraak. Hy was vasgemaak met twee swaar kettings. Voor die tronk se deur was daar ook ’n paar wagte wat diens gedoen het.
7Skielik het ’n engel van die Here in die tronk verskyn. Hy het alles rondom hom helder verlig. Petrus het so vas geslaap dat hy dit nie eens agtergekom het nie. Die engel moes hom toe wakker skud. 8“Staan dadelik op!” het die engel gesê. Die kettings om Petrus se hande het vanself losgegaan. “Sit jou belt aan,” het die engel hom beveel. “En kry ook ’n paar skoene aan jou voete.” Toe Petrus dit alles gedoen het, het die engel vir hom gesê om sy bokleed aan te trek en agter hom aan te kom.
9Petrus het agter die engel begin aanstap. Hy het gedink dat hy weer besig was om ’n visioen te sien. Intussen het hulle by al die wagte verbygestap tot reg voor die groot ysterhek wat na die stad toe lei. Die hek het vanself oopgegaan. 10Die engel en Petrus het saam buitetoe gestap. ’n Straatblok van die tronk af het die engel skielik verdwyn. Petrus het toe eers besef dat hy nie besig was om te droom nie. Opgewonde het hy vir homself gesê: 11“Die Here het regtig ’n engel gestuur om my uit Herodes se hande te kom red. Hy het gesorg dat ek nie voor die Jode verhoor hoef te word nie.”
Die gelowiges se “ongeloof”
12Petrus het vinnig na die huis van Maria, die ma van Johannes Markus, gestap. ’n Groot groep gelowiges het daar saamgebid. 13Toe hy aan die voordeur klop, het ’n bediende met die naam Rodé kom kyk wie dit was. Sy was bly toe sy hoor dat dit Petrus is. 14Sy het na binne gehardloop en opgewonde vir almal gesê: “Petrus staan by die deur!”
15Maar die gelowiges het haar nie geglo nie. “Jy is van jou kop af!” het hulle gesê.
“Nee, dit is so. Dis regtig so,” het sy aanhou sê.
“Dalk is dit sy beskermengel,” het hulle gesê.
16Terwyl almal stry oor wie by die voordeur kon wees, het Petrus aangehou klop. Uiteindelik het hulle die deur kom oopmaak. Hulle kon hulle oë nie glo nie. 17Onder al die opgewondenheid deur het Petrus hulle stilgemaak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk bevry het. “Gaan sê asseblief vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy bygevoeg. Daarna het hy na ’n ander plek vertrek.
18Die volgende dag was daar chaos onder die soldate wat Petrus opgepas het. Hulle kon nie verklaar hoe hy so spoorloos kon verdwyn nie.19Herodes het dadelik ’n groot soektog na Petrus op tou gesit. Hulle kon hom nêrens opspoor nie. Herodes was so kwaad daaroor dat hy die wagte wat Petrus moes oppas, laat teregstel het. Daarna het hy besluit om ’n ruk lank in sy paleis in Sesarea te gaan bly.
Herodes sterf
20Herodes het intussen heelwat probleme met die mense van Tirus en Sidon gehad. Afgevaardigdes uit hierdie gebiede het toe bevriend geraak met die hoof van Herodes se huishouding. Sy naam was Blastus. Deur sy toedoen het hulle ’n geleentheid gekry om met Herodes te kom praat en die vrede te probeer herstel. Hulle voortbestaan het van hierdie ontmoeting afgehang.
21Op die dag waarop hulle afgespreek het, het Herodes sy opwagting gemaak. Met al sy blink klere aan het hy op sy troon gaan sit en almal toegespreek. 22Hy was skaars klaar of die mense het begin uitroep: “Dis ’n god wat nou met ons praat. Hy is nie ’n gewone mens nie.” 23Op daardie einste oomblik stuur die Here een van sy engele wat Herodes net daar voor almal inmekaar laat sak het. Dit het gebeur omdat hy God nie geëer het nie. Daarna het hy baie ernstig siek geword en gesterf. 24Intussen het die gelowiges aangehou om God se woord uit te dra. Die kerk het van krag tot krag gegaan en aanhou groei.
25Barnabas en Saulus het ook teruggekeer Antiogië toe. Hulle het vir Johannes Markus saam met hulle teruggevat.

Tans Gekies:

Handelinge 12: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid