2 Samuel 9

9
Dawid hou sy belofte aan Jonatan
1Dawid het vir die mense gevra: “Is daar miskien nog iemand van Saul se familie oor? Ek wil graag goeddoen aan so iemand omdat ek en Jonatan sulke goeie vriende was.”
2Daar was nog ’n man met die naam Siba wat vir Saul in die paleis gewerk het. Die mense het hom na Dawid gebring.
“Is jy Siba?” vra die koning vir hom.
Siba antwoord: “Ek is tot u diens.”
3Die koning sê toe: “Is daar dalk nog iemand van Saul se familie oor? Ek sal graag goed wil wees vir so iemand, soos God vir my goed was.”
Siba het die koning geantwoord: “Daar is nog ’n seun van Jonatan, maar hy loop swaar.”
4Die koning vra: “Waar is hy?”
“Hy bly daar in Lo-Dabar,” sê Siba, “by Makir, Ammiël se seun.”
5Koning Dawid het mense na Lo-Dabar toe gestuur en hom by Makir se huis laat haal. 6Toe Mefiboset, Jonatan se seun en Saul se kleinseun, by Dawid kom, het hy met sy gesig teen die grond gebuig.
Dawid vra hom: “Is jy Mefiboset?”
“Ja, dis ek. Ek is tot u diens,” antwoord hy.
7Dawid sê vir hom: “Moenie bang wees nie. Ek sal vir jou net goed wees omdat ek en jou pa, Jonatan, sulke goeie vriende was. Ek gaan al jou oupa Saul se grond vir jou teruggee, en jy kan altyd by my kom eet.”
8Hy het weer teen die grond gebuig en gesê: “U Majesteit, ek weet nie hoekom u dit vir my doen nie, want ek is niks meer werd as ’n dooie hond nie.”
9Dawid het toe vir Siba, die man wat vir Saul gewerk het, gesê: “Siba, ek gee nou al die grond en goed van Saul, jou vorige baas, en van sy familie vir hierdie kleinkind van hom. 10Jy en jou seuns en jou werkers moet die grond vir hom bewerk en vir hom oes sodat daar vir hom genoeg is om van te lewe. Mefiboset self kan altyd by my eet.”
(Siba het vyftien seuns en twintig werkers gehad.) 11Siba sê toe vir die koning: “U Majesteit, ek sal alles doen wat u vir my gesê het.”
Mefiboset het toe soos een van die koning se eie seuns gereeld in die paleis geëet. 12Mefiboset het ’n klein seuntjie gehad; sy naam was Miga. Al Siba se mense het vir Mefiboset gewerk, 13maar Mefiboset, wie se twee bene lam was, het in Jerusalem gebly sodat hy gereeld by die koning kon eet.

Tans Gekies:

2 Samuel 9: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid