2 Samuel 2

2
Dawid word die koning van Juda
1Daarna het Dawid by die Here raad gevra: “Moet ek in een van die dorpe van Juda gaan bly?”
Die Here het “Ja” geantwoord.
Dawid vra toe: “In watter dorp moet ek gaan bly?”
En die Here antwoord: “In Hebron.”
2Dawid het toe in Hebron gaan bly saam met sy twee vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel. 3Die manne wat by Dawid was, het elkeen ook met sy familie daarheen getrek en in die klein dorpies om Hebron gaan bly. 4Die mense van Juda het na Hebron toe gekom en Dawid daar koning gemaak. Hy was net die koning van Juda.
Die mense het vir Dawid kom vertel dat die mans van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het. 5Hy het toe van sy manne na Jabes gestuur met die boodskap: “Die Here sal vir julle goed wees omdat julle so goed was vir Saul, julle koning, en hom begrawe het. 6Die Here sal vir julle goed wees en julle onthou. Ek waardeer regtig wat julle gedoen het. 7Noudat julle koning dood is, moet julle sterk en dapper wees. Ek wil hê julle moet weet die mense van Juda het my koning gemaak oor hulle.”
Oorlog tussen Dawid en Saul se mense
8Saul se generaal, Abner, die seun van Ner, het oor die Jordaanrivier na Maganajim toe getrek. Hy het Is-Boset, Saul se seun, saamgevat 9en hom koning gemaak oor die hele Israel. Is-Boset het met ander woorde regeer oor die streke Gilead, Aser, Jisreël, Efraim en Benjamin. 10Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning geword het oor Israel en hy het twee jaar regeer. Dawid was net koning oor die mense van Juda 11en hy het sewe jaar en ses maande in Hebron regeer.
12Abner, die seun van Ner, het met Is-Boset se manskappe van Maganajim af na Gibeon toe gegaan. 13Joab, die seun van Seruja, en Dawid se manskappe het ook uitgetrek en hulle by Gibeonsfontein gekry. Die twee groepe het weerskante van die poel water gaan sit. 14Abner sê toe vir Joab: “Kom ons laat van die jongmanne die ding hier voor ons uitspook.”
“Dis goed so,” sê Joab.
15Hulle laat toe twaalf manne vorentoe kom wat vir die stam van Benjamin en Is-Boset moet veg, en twaalf wat vir Dawid moet veg. 16Toe hulle mekaar pak, gryp elkeen die ander een aan die hare en hulle steek mekaar gelyk met die swaard in die sy sodat hulle almal saam dood neerslaan. (Dis hoekom hulle die plek daar by Gibeon Klipmesdeel noem.) 17Daar het toe ’n woeste geveg uitgebreek. Abner en die manne van Israel het die slegste daarvan afgekom teen Dawid se manskappe.
18Al drie Seruja se seuns, Joab, Abisai en Asael, was in die geveg. Asael was so rats soos ’n ribbok. 19Toe Abner begin weghardloop, sit Asael hom agterna en bly op sy hakke, maak nie saak watter kant toe Abner draai nie. 20Abner kyk toe om en skree vir hom: “Is jý die een wat agter my aan is, Asael?”
Asael skree terug: “Ja, dis ek!”
21Abner skree vir hom: “Hou op om my te jaag! Vang een van die jongmanne en vat sý wapens!”
Maar Asael wou niks weet van wegdraai nie.
22Abner skree toe weer vir hom: “Gee pad hier agter my! Ek gaan jou doodmaak! Hoe sal ek dan weer jou broer Joab in die oë kan kyk?”
23Maar Asael wou nie hoor nie. Toe steek Abner hom so hard met die spies in sy maag dat die steel by sy rug uitkom. Asael het net daar dood neergeslaan. Almal wat verbygehardloop het, het gaan staan daar waar Asael dood gelê het.
24Maar Joab en Abisai het op Abner se spoor gebly. Toe die son sak, kom hulle by Ammabult aan wat oos van Giag op pad na Gibeon se weivelde lê. 25Die manne van Benjamin het by Abner saamgekom en in ’n digte bondel op een van die koppies gaan staan. 26Toe skree Abner: “Joab! Moet ons dan vir altyd aanhou veg? Jy weet goed waar dit gaan eindig: almal gaan bitter kwaad en ongelukkig wees! Hoekom sê jy nie vir jou manne hulle moet ophou om hulle eie mense te jaag en dood te maak nie?”
27Toe skree Joab terug: “So waar as God leef, as jy net vroeër gepraat het, het ons vanmôre al opgehou om mekaar aan te val!”
28Joab het op ’n ramshoring geblaas. Die manne het gaan staan en opgehou om die Israeliete te jaag. Die geveg het daar opgehou.
29Abner en sy manne het daardie hele nag getrek. Hulle is deur die Jordaanvallei en oor die rivier. Hulle het eers laat die volgende môre by Maganajim aangekom.
30Nadat Joab opgehou het om Abner te jaag, het hy die manskappe almal bymekaargeroep. Die negentien man en Asael was al wat makeer het van Dawid se soldate. 31Maar Dawid se soldate het 360 van die mense van Benjamin doodgemaak wat saam met Joab was.
32Hulle het Asael se lyk gevat en hom in sy familiegraf by Betlehem gaan begrawe. Daarna het Joab en sy manne dwarsdeur die nag getrek en die volgende môre toe dit lig word, in Hebron aangekom.

Tans Gekies:

2 Samuel 2: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid