2 Konings 20

20
God verhoor Hiskia se gebed oor sy siekte
1In dié tyd het Hiskia baie ernstig siek geword. Die profeet Jesaja het hom gaan besoek en vir hom gesê: “Ek het vir jou ’n boodskap van die Here af. Hy sê jy moet jou sake in orde kry, want jy gaan nie weer gesond word nie.”
2Hiskia het op sy sy gedraai en na die muur gekyk. Toe het hy gebid: 3“Here, onthou tog dat ek altyd probeer doen het wat U wou hê.” Daarna het hy in trane uitgebars.
4Nog voordat Jesaja oor die middelste plein geloop het, het hy weer ’n boodskap van die Here gekry: 5“Gaan terug na Hiskia, my volk se leier, en sê vir hom: ‘Die Here, die God van Dawid, sê Hy het na jou gebed geluister en gesien hoe jy gehuil het. Hy sê: Ek het besluit om jou gesond te maak. Oormôre sal jy reeds weer tempel toe kan gaan. 6Ek sal jou nog vyftien jaar laat lewe en vir jou én vir Jerusalem beskerm teen die mag van die Assiriese koning. Ek doen dit om my eer te beskerm en ter wille van Dawid, wat vir My iemand baie spesiaal is.’”
7Jesaja vra toe: “Bring vir my saamgeperste droë vye.” Hulle het dit op die sweer gesit en Hiskia het gesond geword.
8Intussen het Hiskia vir Jesaja gevra: “Is daar ’n teken om te bevestig dat ek gesond sal word en weer tempel toe sal kan gaan?”
9Jesaja antwoord hom toe: “Ja, die Here het ’n teken gegee. Jy kan kies of die skaduwee op die trap tien trappe vorentoe of terug moet gaan.”
10Hiskia sê toe: “Die skaduwee beweeg die hele tyd vorentoe. Laat dit as ’n teken van die Here se belofte tien trappe terugbeweeg.”
11Jesaja het toe ernstig gebid en die Here het die skaduwee op die trappe wat Agas gebou het, tien trappe terug laat beweeg.
Hiskia ontvang gaste uit Babel en
Jesaja voorspel die val van Jerusalem
12Kort nadat Hiskia so siek was, het Merodag-Baladan, die koning van Babel, briewe en ’n geskenk na hom toe gestuur. Hy het gehoor van Hiskia se siekte en herstel. 13Hiskia het die afgevaardigdes hartlik ontvang en hulle in Jerusalem rondgewys. Hy het sy skatkamers vir hulle gewys, met al die goud en silwer, speserye en duur geurige olies daarin. Hy het die wapenstore en ander stoorkamers vir hulle gewys. Daar was eintlik niks wat hy nie vir hulle gewys het nie.
14Jesaja die profeet het toe na Hiskia toe gegaan en gevra wie die besoekers was en waarvandaan hulle gekom het. Hiskia het geantwoord: “Hulle kom uit die ver land, Babel.”
15“Nou wat het hulle alles in jou paleis gesien?” het Jesaja gevra.
“Alles,” het Hiskia geantwoord, “daar is niks wat ek vir hulle weggesteek het nie.”
16Daarop sê Jesaja vir Hiskia: “Hier is ’n boodskap vir jou van die Here af: 17‘Eendag sal dit gebeur dat al die skatte in jou paleis en alles wat die Judese konings voor jou versamel het, na Babel toe weggedra word. Niks sal hier oorbly nie. 18Jou eie seuns sal nog Babel toe geneem word om bediendes te word in die koning se paleis.’”
19Hiskia het Jesaja geantwoord: “Die boodskap van jou is reg so,” maar hy het by homself gedink: “Daar sal ten minste vrede en veiligheid wees so lank as wat ek leef.”
20Die res van Hiskia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Daar word ook vertel van die dam en watervoor wat hy laat bou het om water in die stad in te lei. 21Ná Hiskia se dood het sy seun, Manasse, in sy plek koning geword.

Tans Gekies:

2 Konings 20: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid