1 Samuel 3

3
Die Here verskyn aan Samuel
1Die seuntjie Samuel het onder Eli se toesig in die tempel gehelp. Die woord van die Here was skaars in dié tyd. Die Here het met niemand gepraat nie. 2Op ’n keer het Eli op sy gewone plek gelê. Sy oë het so sleg geword dat hy nie meer kon sien nie. 3Samuel het in die heilige deel van die tempel van die Here geslaap waar die verbondsark van God gestaan het.
Voor dit die môre lig word en die lamp in die tempel doodgeblaas word, 4het die Here Samuel geroep. “Ja, ek kom,” het hy geantwoord 5en gou na Eli toe gegaan.
“U het my geroep. Het u my nodig?” het hy gevra.
“Nee, ek het jou nie geroep nie,” het Eli geantwoord. “Gaan lê maar weer.”
Hy het toe weer gaan lê.
6Die Here het weer geroep: “Samuel!”
Samuel het opgestaan en na Eli toe gegaan en vir hom gesê: “U het my geroep. Het u my nodig?”
Eli het weer geantwoord: “Nee, ek het jou nie geroep nie, my kind. Gaan lê maar weer.” 7Samuel het toe nog nie die Here geken nie, want die Here het nog nie met hom gepraat nie.
8Die Here het Samuel die derde keer geroep. Hy het na Eli toe gegaan en gesê: “U het my geroep. Het u my nodig?”
Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het. 9Eli sê toe vir Samuel: “Gaan lê, en as Hy jou weer roep, sê jy: ‘Praat maar, Here, u dienaar luister.’” Samuel het weer op sy plek gaan lê.
10Die Here het gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel! Samuel!”
Toe antwoord Samuel: “Praat maar, u dienaar luister.”
11Die Here het toe vir Samuel gesê: “Ek gaan binnekort iets in Israel doen wat elkeen wat dit hoor, se twee ore sal laat tuit. 12Op daardie dag sal Ek alles doen waarmee Ek Eli gedreig het. 13Ek het al vir hom gesê dat Ek sy familie vir altyd gaan straf vir die sonde waarvan hy geweet het, maar waaraan hy niks gedoen het nie: sy seuns het baie lelike dinge gedoen, maar hy het hulle nie vasgevat nie. 14Daarom het Ek vir Eli se familie gesweer: die sonde van Eli se familie sal nooit reggestel kan word met enige offer nie.”
15Samuel het tot die môre bly lê en die deure van die Here se tempel oopgemaak. Hy was te bang om vir Eli te vertel wat in die nag gebeur het.
16Eli roep toe vir Samuel: “Samuel, my kind, kom hier!”
Hy antwoord toe: “Ja, het u my nodig?”
17Eli vra vir hom: “Wat het die Here vir jou gesê? Moet niks vir my wegsteek nie. God sal jou baie swaar straf as jy vir my enigiets wegsteek wat Hy vir jou gesê het.” 18Samuel het hom toe alles vertel; hy het niks geheim gehou nie.
Eli het daarop geantwoord: “Hy is die Here. Hy sal doen wat Hy wil.”
19Samuel het grootgeword en die Here het hom gehelp. Die Here het ál Samuel se woorde waar gemaak. 20Die hele Israel, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, het geweet dat Samuel ’n profeet van die Here is wat die waarheid praat. 21Die Here het meer kere in Silo verskyn. Hy het daar met Samuel gepraat en Samuel het die Here goed leer ken.

Tans Gekies:

1 Samuel 3: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid