1 Petrus 3:1-7

1 Petrus 3:1-7 DB

Dieselfde geld ook vir vroue. Wees ’n goeie vrou vir jou man. Doen wat hy van jou verwag. Die manier waarop julle in die gesin leef, is belangrik. As daar byvoorbeeld ’n man is wat nie na die Woord van God wil luister nie, moet die manier waarop jy as vrou leef, hom oortuig dat dit waarin jy glo, die waarheid is. Jou lewe praat baie harder as jou woorde. Dit is eintlik nie eens nodig om baie met jou man oor God te praat as jy leef soos Hy wil hê nie. So sal jy vir jou man wys hoe wonderlik God is. Ek vra julle: Wanneer is ’n vrou regtig mooi? Vir ’n Christen sit skoonheid nie aan die buitekant nie, maar dit kom van binne. Moenie julle te veel daaroor bekommer of julle klere in die mode is en julle hare pragtig versorg is nie. Mooi juweliersware is ook nie nodig om julle mooi te maak nie. Nee, ’n vrou se eintlike skoonheid kom van binne af. Hoe mooi is dit nie as ’n vrou sag en vriendelik optree nie! Of ’n vrou nou oud of jonk is, hierdie soort mooiheid kan jy nie van haar af wegvat nie. In God se oë is dit die kosbaarste juwele wat ’n vrou kan dra. In die ou tyd het die vroue wat God getrou met alles gedien het, hulle ook so mooi gemaak. Hulle was goeie vroue wat na hulle man geluister het. Dink aan Sara as voorbeeld. Sy het na Abraham geluister en erken dat hy die leiding in die gesin moes neem. As julle reg leef en nie toelaat dat mense julle bangmaak of verkleineer as julle vir God leef nie, behoort julle soos Sara ook aan God se geestelike gesin. Net so moet ’n man hom goed gedra in sy gesin. Jy moet altyd mooi optree teenoor jou vrou en haar nie seermaak of ongeskik met haar wees nie. Onthou, sy kan haarself nie so goed beskerm en verdedig soos jy kan nie. Net soos vir jou, het God ook vir vroue die ewige lewe uit genade gegee. As jy so leef, sal jy baie rustig met God in gebed kan praat sonder dat jou gewete jou pla.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Petrus 3:1-7

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid