1 Korintiërs 1:18-25

1 Korintiërs 1:18-25 DB

Dat Jesus aan die kruis moes sterf, klink wel so onwaar soos ’n feëverhaal vir die mense wat hulle nie aan God steur nie. Hulle is buitendien op pad hel toe. Maar ons wat God leer ken het en nou Syne is, put soveel geestelike krag daaruit. God maak ons sterk deur die boodskap oor wat aan die kruis gebeur het. Daar is geskryf: “God sal vir almal wys hoe verkeerd selfs die slimste mense is. Wat vir hulle so slim lyk, is eintlik maar baie dom.” Gaan roep maar die mense wat sê hulle weet baie. Gaan kry die professore. En waar is die mense met die gladde tong? Het God nie gewys dat al hierdie slimmighede wat mense kwytraak eintlik maar baie dom is wanneer dit kom by dit wat regtig belangrik is nie? Mense met al hulle slimmighede het nie die vaagste benul waaroor dit gaan wanneer dit by die dinge van God kom nie. God het in sy wysheid besluit dat dit so sal wees. Mense dink dalk dat die kruis en wat daar gebeur het nie sin maak nie. Dít is egter die manier waarop God besluit het om mense uit hulle sonde na Hom toe terug te bring. Ek praat van mense wat God vertrou. Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word. Maar ons vertel vir almal dat Jesus wat gekruisig is, die manier is waarop God dinge tussen Hom en sondaars regmaak. Die Jode weier botweg om dit te aanvaar en ander mense lag daaroor asof dit sommer ’n storie of ’n feëverhaal is. Onder hierdie klomp spottende pessimiste is daar tog ’n klompie wat God se stem gehoor het en luister. Hulle ken die waarheid. As jy Christus ken, ken jy die krag wat net God kan gee en verstaan jy al God se planne. Menslike dinge kan mos nie met goddelike dinge vergelyk word nie. Om dit so te stel: die “domste” ding wat God volgens die wêreld kan doen, is ver slimmer as die heel slimste ding wat die slimste mens kan uitdink. Al span mense al hulle kragte saam, is dit nog nie eens ’n druppel in die emmer teenoor God se krag nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid