SAGARÍA 10

10
'n Heerlike toesegging aan Israel.
1BID tot die Here om reën in die tyd van die laat reëns; die Here maak die weerligte, en Hy sal aan hulle 'n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.
2Want die huisgode spreek bedrog, en die waarsêers sien leuens en verkondig nietige drome, hulle troos met wind. Daarom het hulle weggeswerwe soos 'n kudde; hulle verkeer in verdrukking, omdat daar geen herder is nie.
3Teen die herders het my toorn ontvlam, en oor die voorbokke sal Ek besoeking bring; want die Here van die leërskare gee ag op sy kudde, op die huis van Juda, en maak hulle tot sy pragtige perd in die stryd.
4Uit hom sal die hoeksteen, uit hom die muurpen, uit hom die strydboog, uit hom die heersers almal saam uitgaan.
5En hulle sal wees soos helde wat in die oorlog die modder van die strate vertrap; en hulle sal veg, want die Here is met hulle; en die ruitery sal beskaamd uitkom.
6En Ek sal die huis van Juda sterk maak en aan die huis van Josef hulp verleen en hulle 'n woonplek aanwys, want Ek ontferm My oor hulle; en hulle sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie, want Ek is die Here hulle God, en Ek sal hulle verhoor.
7En Efraim sal wees soos 'n held, en hulle hart sal vrolik wees soos deur wyn, en hulle kinders sal dit sien en hulle verbly, hulle hart sal juig in die Here.
8 Ek wil vir hulle fluit en hulle vergader, want Ek het hulle losgekoop; en hulle sal net so talryk wees soos tevore.
9En Ek sal hulle saai onder die volke, en in die verafgeleë streke sal hulle aan My dink; en hulle sal saam met hul kinders in die lewe bly en terugkom.
10En Ek sal hulle terugbring uit Egipteland en uit Assur hulle vergader en hulle na die land Gílead en die Líbanon bring; maar dit sal vir hulle nie voldoende wees nie.
11En Hy sal deur die see van benoudheid trek en die golwe in die see slaan, en al die dieptes van die Nyl sal opdroog; ook sal die trotsheid van Assirië neergewerp word, en die septer van Egipteland wyk.
12En Ek sal hulle sterk maak in die Here, en hulle sal in sy Naam wandel, spreek die Here.

Tans Gekies:

SAGARÍA 10: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid