PSALMS 104

104
Die lied van die skepping.
1 LOOF die Here, o my siel! Here my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed —
2wat Uself omhul met die lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tentdoek;
3wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel,
4 wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars.
5Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.
6U het dit met die wêreldvloed soos met 'n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan.
7 Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik —
8berge het opgerys, laagtes het weggesak — na die plek wat U vir hulle reggemaak het.
9 'n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
10Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes: tussen die berge loop hulle deur.
11Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors.
12By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor.
13Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke.
14Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom,
15en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk.
16Die bome van die Here word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het;
17waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is.
18Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is 'n skuilplek vir die dasse.
19Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.
20U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip.
21Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God.
22As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke.
23Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.
24Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!
25Daar is die see, groot en alkante toe wyd — daar is 'n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.
26Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel.
27Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.
28U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie.
29 U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.
30U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.
31Laat die heerlikheid van die Here vir ewig wees, laat die Here bly wees oor sy werke,
32Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook.
33Ek wil sing tot eer van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.
34Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die Here!
35Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie! Loof die Here, o my siel! Halleluja!

Tans Gekies:

PSALMS 104: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid